Gedagte vir die dag: Petrus se herdersopdrag

 veld_see_heuwel_skape_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Johannes 21:15-19

Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” (Johannes 21:15)

Petrus kry hier die geleentheid om soos hy Jesus drie maal verloën het, drie keer sy lojaliteit aan Jesus te bevestig, om opnuut vir Hom te kies. Jesus vra hom reguit: “Het jy My baie lief?” Om sy liefde aan Hom te bewys en hom voor die ander dissipels in sy amp te herstel, gee Jesus vir Petrus drie maal ’n herdersopdrag: laat my lammers wei, pas my skape op, laat my skape wei. Petrus kry ’n driemalige opdrag om God se kudde – die gemeente – te lei en te versorg. Jesus bevestig hom dus drie maal in die herdersamp. Hy berei Petrus voor om weer met vrymoedigheid sy getuie te wees.

Hierdie herdersamp behoort deel te wees van elke gelowige se lewe. Indien jy aan ’n gemeente behoort, behoort jy vir jou medegelowiges ’n herder te wees; hulle te versorg en vir hulle verantwoordelikheid te aanvaar.

God wil ook met jou ’n pad loop soos Hy met sy dissipels, en spesifiek met Petrus, gedoen het. Daar is ’n spesiale plek in jou gemeente wat net jy kan volstaan. Vra die Heilige Gees om vir jou te wys waar dit is. En gaan sê sommer nou vir God dat jy in die vervolg gewillig sal wees om jou medelidmate op te pas en te beskerm; om hulle op die regte pad te lei.

Here, U weet dat ek U liefhet, en ek wil nou my eie herdersopdrag aanvaar. Help my om my medegelowiges te lei en vir hulle verantwoordelikheid te aanvaar. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.