Lees: Matteus 14:22-36
Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom. Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” (Matteus 14:29-30)
Jesus se dissipels skrik hulle boeglam toe hulle iemand op die water na hulle sien aangeloop kom. “‘Dis ’n spook!’ Van angs het hulle hard begin skreeu.” Maar toe praat Jesus: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie,” sê Hy vir hulle. Dit is natuurlik die voortvarende Petrus wat volgende aan die woord is. “Here, beveel my om op die water na U toe te kom,” vra hy. “Kom!” nooi Jesus hom. En sowaar! Petrus klim uit die skuit en begin op die water na Jesus toe loop. Hy het seker alte trots gevoel, en sy mededissipels moes verstom gewees het. Maar Petrus se demonstrasie van dapperheid duur nie lank nie. Toe hy sien hoe sterk die wind is, word hy bang en begin sink. Gelukkig doen hy darem die regte ding en roep benoud dat Jesus hom moet red.
Jesus het sy hand na Petrus uitgesteek en hom gegryp. “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?” vra Hy vir hom. Petrus kry die onmoontlike – om op water te loop – reg, maar sodra hy van Jesus wegkyk, sien hy die gevare om hom raak en begin hy sink.
Soms kry ons dit reg om in probleemtye op Jesus te bly vertrou, maar probleme kan ons geloof kelder as hulle onhanteerbaar begin word. In tye van stres moet jy daarteen waak om Jesus uit die oog te verloor. Bly op Hom vertrou. Jy kan elke keer daarop reken dat Hy sy hand na jou sal uitsteek en jou sal help.
Here, ek het ook al toegelaat dat my omstandighede my geloof kelder. Ek wil nooit weer van U af wegkyk nie. Amen.
Dankie vir die gedagte van die dag..ek lees dit elke dag ..
Pragtig is spesiaal vir my geskryf Dankie