Gedagte vir die dag: ’n Plek van vreugde

wolke_sonsondergang_hemel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Jesaja 65:17-25

Ek gaan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie, hulle sal nie onthou word nie. Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep: Ek gaan ʼn Jerusalem skep wat vol blydskap is, sy inwoners sal vreugde hê. (Jesaja 65:17–18)

Reeds in die Ou Testament gee God vir sy profete ’n kykie oor hoe sy nuwe hemel en nuwe aarde eendag daar sal uitsien. Hier gaan dit nie om die vernietiging van die ou aarde nie, maar om ’n totaal nuwe begin wat God met sy kinders maak. In ons Bybelgedeelte vir vandag beskryf die profeet Jesaja die nuwe hemel en aarde as ’n plek waar die inwoners vol vreugde sal wees. Daar sal niemand meer wees wat huil of hulp nodig het nie. In hierdie nuwe wêreld sal die wolf en die lam saam wei, die leeus sal strooi vreet soos beeste. Daar sal niks meer oor wees wat die mense skade kan aandoen nie.

‘Ons leef in die land van sonde en dood en trane, maar daar bo sal daar onsterflike vreugde wees,’ het Dwight Moody in een van sy preke gesê.

As dit dus weer baie sleg met jou hier op aarde gaan, kan jy jou troos aan die plek van vreugde wat vir jou in die hemel wag. Hieroor skryf Paulus: ‘Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie… Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly’ (2 Kor. 4:16-17).

Hemelse Vader, ek loof U vir die belofte van ’n nuwe wêreld waar al my swaarkry vir altyd verby sal wees.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ansa ·

Baie dankie vir vanoggend se boodskap dit is iets om na uit te sien n plek van vrede Die boodskap so spesiaal vir my ek verjaar vandag ja 70 jr oud en n mens verlang na n plek van vrede en vreugde

Bolander ·

Ansa, ek ken nie vir jou nie maar hoop jou dag is pragtig en vol liefde. Ja ek verlang ook somtyds na ‘n plek van vrede en vreugde. Maar ons gaan dit eendag beleef.!!!!!!

Dries ·

Hierdie mooi woorde laat mens met opgewondenheid uitsien na daardie wonderlikke dag
wanneer Jesus oor die wolke kom , om ons te kom haal!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.