Gedagte vir die dag: Portrette van Jesus

Hebreërs 1:1-3: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. …

Deur die eeue het baie kunstenaars reeds probeer om Jesus uit te beeld. Sommige kunstenaars het probeer om deur hulle werk hulle liefde en respek vir Hom te wys. Ander weer, het probeer om deur hulle werk mense te skok. Niemand het Jesus egter beter uitgebeeld as wat Johannes deur ‘n ‘woordportret’ in Openbaring 1:13-15 gedoen het nie. Hy beskryf sy visie van die opgestane Heer: “en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ‘n lang kleed aangehad en ‘n goue band om sy bors gedra. Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. Sy voete was soos geelkoper wat in ‘n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van ‘n groot watermassa.”

Dit is egter nie hoe ons Here lyk of klink wat elke gelowige se hart moet aanraak nie, maar wel wat Hy sê. Dit wat Hy sê behoort alle vrees uit die harte van gelowiges te verdring en ons selfs op ons sterfbed te vertroos.

… “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. (Openbaring 1:17-18)

Wat ‘n wonderlike belofte! Hy het die dood oorwin en ons wat in Christus is, sal tot in alle ewigheid saam met Hom leef.

Die uitdaging vir ons is om deur ons aksies en interaksies met ander ‘n portret te wees wat daagliks meer en meer aan Christus gestalte gee.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons gedrag en leefstyl so sal wees dat almal wat met ons in aanraking kom u beeld in ons sal sien. Gee dat die portret wat hulle sien, U so duidelik sal uitbeeld dat hulle sal besef dat ons aan U behoort en hulle nader aan U sal bring. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Hoe misluk ons meestal, vanweë die sonde, om ‘n portret van U te wees. Gee ons krag om U beeld uit te dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.