Gedagte vir die dag: ’n Positiewe uitkyk

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wys die leeglêers tereg, praat die kleinmoediges moed in, ondersteun die swakkes, wees geduldig met almal. Kyk dat niemand weerwraak neem nie, maar streef eerder altyd die goeie na – vir mekaar en vir alle mense. (1 Tessalonisense 5:14-15)

In die wêreld van vandag is mense dikwels moeg en baie keer nogal ongeduldig. Dis ’n tyd waarin ons as volgelinge van Jesus uiters geduldig moet wees en sag met mense moet werk. Ons moet vol liefdevolle goedheid teenoor mekaar wees.

Op sekere tye van die jaar, soos met vakansies, is dit wonderlik om ons ware kleure te kan wys in die winkelsentrums, op die paaie waar die verkeer besig is, en wanneer ons in lang toue moet staan om iets te koop. Ware godsdiens saam met tevredenheid is ’n groot rykdom (1 Timoteus 6:6).

Ons moet tot by tien tel voordat ons iets sê wat iemand kan seermaak of teenproduktief sal wees. ’n Vriendelike of bedagsame woord kan iemand se lewe letterlik verander.

Jesus het gesê ons moet versigtiger wees oor wat by ons mond uitkom as oor wat daar ingaan (Matteus 15:11). Die kos wat ons eet, beïnvloed niemand anders nie, maar die woorde wat ons spreek, kan hul hele lewe beïnvloed. Ons moet versigtig wees wat ons sê.

Aan die ander kant kan bemoedigende woorde mense hoop en self vertroue gee om die uitdagings van die lewe aan te pak. Die Bybel sê vir ons in Spreuke 18:21 die tong het mag oor lewe en dood. Beide negatiewe en positiewe woorde is aansteeklik; daarom is dit goed om tyd deur te bring saam met mense wat ’n optimistiese lewensbeskouing het.

As ons soek na wat mooi is in die lewe en die beste vir mense is, sal ons altyd meer bewus wees van wat ons het, eerder as van wat ons nie het nie.

Vader God, ek het dit nodig om hieraan herinner te word. Ek vind dikwels dat ek negatief en ongeduldig raak en dan dinge sê wanneer ek eerder moet stilbly. Help my asseblief om op te tree soos U van my vra, slegs woorde van lewe te spreek en te werk asof ek vir U werk. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.