Gedagte vir die dag:  Prioriteite

sonsopkoms_Uganda_stiltetyd_Marco-Brits.jpg

Foto: Marco Brits (Apoka Safari Lodge, Uganda)

Lees 1 Samuel 17:19-32

Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. (1 Sameul 17:20)

Toe sê Dawid: “… Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?” (v. 29).

Die intrige verdiep. Ná die veewagtertjie se aankoms in die laer vol verskriktes en moedeloses, loop daar baie gerugte. Daar is byvoorbeeld ’n klomp stories oor ’n enorme beloning wat uitgeloof word aan die man wat die Filistynse bullebak verslaan. Dit alles fassineer die jong Dawid.

Maar sy oudste broer, Eliab, een van die terneergedrukte manskappe, vererg hom vir die klein niksnuts se uitvraery en hy kon- fronteer hom: “Waarom het jy hierheen gekom …?” (v. 28). Het jy kom oorlog-oorlog speel? Dink jy dit is kinderspeletjies dié? En wat het jy met die trop kleinvee gemaak wat aan jou toevertrou is?

Ons weet reeds hoe dié storie gaan eindig. Die hele wêreld ken Dawid se naam. Almal onthou sy prestasies en oorwinnings. G’n mens weet vandag wie Eliab was nie.

Die geskiedenis het ’n manier om met kleinsieliges klaar te speel. Dit moet ons dus nie verbaas dat  die geïrriteerde Eliab  in vergetelheid verdwyn het nie. Ons weet mos ook dat priester Samuel destyds Eliab se buitengewone lengte opgemerk het en hom opsluit tot Saul se opvolger wou salf (vgl. 1 Sam 16:7), en dat die Here sy priester daaraan herinner het dat Hy verder as voor- koms kyk. Vandag is Eliab, oudste seun ofte nie, niks meer nie as ’n obskure voetnota in Israel se verhaal.

Maar nee, dit is nie so dat daar net plek vir wenners in God se storie met sy mense is nie. Hierdie episode onderstreep weer eens aan gelowiges die noodsaak om te kan onderskei waarop dit werklik aankom (vgl. Fil 1:10). Dat God se eer om meer gaan as die omsien na ’n klomp bokke.

Leer my elke dag, Here, wat U wil hê ek heel eerste moet doen.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here Jesus U alleen weet van al die Goliatte in ons lewens….help ons om verby dit te kyk….ons sien U die Ewige Onveranderlike God by wie ons skuil..Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.