Gedagte vir die dag: Probeer jy supervrou wees?

vrou_uitgestrekte-arms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof … (Efesiërs 4:7-8, 13)

Probeer jy ’n supervrou wees wat almal se maatstawwe wil haal, niemand wil teleurstel nie en alles uitstekend probeer doen? My lewe het verander toe ek besef het: God het vir my sekere talente en tekortkomings gegee omdat Hy ’n spesiale en spesifieke plan met my lewe het wat niemand anders as ek kan uitleef nie.

As ons supervrou probeer wees en later besef ons kan nie alles vir almal wees nie, laat dit ons onbekwaam voel. Moenie dat hierdie vals gevoel van minderwaardigheid jou ontmoedig nie. Onthou altyd God het jou sekere talente gegee wat jy nodig het om jou doel op aarde mee te bereik. Vandag se teks lees juis: “Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.”

As jy byvoorbeeld nie goed met syfers is nie gaan jy die gawe waarskynlik nie nodig hê om jou lewensdoel uit te leef nie. Hy rus jou toe met dit wat jy nodig het om jou droom ’n werklikheid te maak. Vier jou uniekheid. Spits jou toe op wat jy kan doen, ontwikkel jou positiewe eienskappe en benut dit tot die maksimum. Hou op om jou gedurig te bekommer oor dit waarmee jy nie so goed is nie. Moenie ’n supervrou probeer wees nie, erken jou beperkings en aanvaar dat jy nie alle mense altyd gelukkig gaan hou nie.

Moenie jou met ander vergelyk nie, wanneer jy iemand probeer wees wat jy nie werklik is nie versmoor jy God se krag in jou. Deur ’n ander se droom te probeer leef, beperk jy in elk geval net jou eie potensiaal. Onthou, God het vir jou veel meer in gedagte as wat jy ooit kan dink of vra. Hy het ’n individuele plan vir jou lewe – moenie ander probeer naboots nie; dit gaan jou net frustreer as dit wat vir hulle werk nie vir jou werk nie. Boonop mis jy dan die wonderlike dinge wat God vir jóú beplan het. Hardloop jou eie resies!

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize ·

Ja dis waar dis hoe ek al jare leef en ek glo nie in myself nie maar God is besig om die wiel van my lewe te Verander

OWO ·

Die talente en gawes moet nie verwar word met die Geestelike of Genadegawes nie.Elke mens het ten minste een Geestelike Gawe ontvang.Party meer,Paulus noem 9 in 1Kor 12:7-11(NLV)Die gawes en talente sluit die hele spektrum van talente in bv kunstigheid,mooi sing,noem maar op.Die Genadegawes is die bedieninge van Jesus Christus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.