Gedagte vir die dag: Die profesieë word vervul

son_hoop_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

God het die profete laat besef dat dit wat hulle geprofeteer het, nie vir hulle eie tyd bedoel was nie, maar vir julle s’n. (1 Petrus 1:12, 2006-NLV)

Reeds in die Ou Testament het profete soos Jesaja en Miga vertel van die Messias wat gebore sou word om die volk Israel te verlos.

Hierdie profesieë word deur die geboorte van Jesus vervul. Die profete het ook berig dat Hy sou ly en daarna verheerlik sou word. Petrus en die ander dissipels het eers ná Jesus se opstanding begryp dat die profete se voorspellings op Jesus betrekking gehad het. Hulle tree nou op as boodskappers van Jesus se Goeie Nuus en versprei dit oor die wêreld. Die verkondiging en uitdra van die boodskap vind onder leiding van die Heilige Gees plaas. Dit is ook Hy wat mense se harte vir hierdie boodskap ontvanklik maak.

Elke kind van God het die verantwoordelikheid om Jesus se boodskap van verlossing te verkondig. Selfs in ons moderne wêreld is daar nog miljoene mense wat nog nie hierdie boodskap gehoor het nie. Wat doen jy om dit uit te dra?

Here Jesus, vergewe my dat ek so traag is om ’n verkondiger van u verlossings boodskap te wees. Help my om dit met entoesiasme uit te dra. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Kan jul my asb sê wat gebeur met die miljoene wat nooit die boodskap gehoor het nie en tot strewe kom?

Louw ·

Daar is twee gedeeltes. Eerstens wat Jesus sê. : Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel: van sonde, omdat hulle in My nie glo nie; en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie; en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is. (Joh 16:7-11)

En dan wat Paulus sê: Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie. (Rom 2:14-16)

Eish ·

Dankie vir die verse. Ek verstaan steeds nie wat gaan gebeur met diegene wat nooit die Woord gehoor het en n keuse kon maak nie. Die gedeelte in Romeine praat van n oordeel en verder van wetsonderhouding en verbreking daarvan ens. Ons lees dat Jesus sê dat niemand na Hom toe kan kom tensy die Vader hom nie trek nie. Wat is dus die lot van diegene wat nie die geleentheid gehad het om hul te bekeer en te leef onder die soenverdienste van Jesus nie. Met ander woorde, diegene wat die Vader nie getrek het nie. Wat is hul lotsbestemming?

Louw ·

Die eerste gedeelte wys dat die Heilige Gees almal sal oortuig van sonde. Die tweede gedeelte wys dat ondien jy nooit geleentheid gehad het om van Jesus te hoor nie maar jy doen van nature eat reg is kan jy gered word. Lees Jesaja 2 se eerste verse dan sal jy sien dat daar tog geleentheid is om van Jesus te leer al is dit eers na die dood in die paradys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.