Lees Psalm 146:5-10
Die Here regeer vir altyd. Sion, jou God regeer van geslag tot geslag. (Psalm 146:10)
Voorspelbaarheid. Dít, sê die slim mense, is die meeste van ons se begeerte. Paulus sou skryf dat ons vir die regeerders moet bid sodat ons “ ’n rustige en ’n stil lewe kan lei” (1 Tim 2:2). Ons is nie goed met verrassings nie, veral nie uit regeringskringe nie.
Vir die digter van hierdie geliefde lofpsalm is daar geen kwessie nie: Die Here se regering duur vir altyd. Sy kinders kan dus op Hom staatmaak: Hy is wat Hy is. Hulle sal uit eie ondervinding weet hoe lyk sy troue versorging (vgl. v. 6-7), sy bevryding en genesing (vgl. v. 7-8), sy liefde en ondersteuning (vgl. v. 8-9), sy hulp en beskerming (vgl. v. 9). Hulle weet ook hoe Hy goddeloses dwarsboom (vgl. v. 9).
Dit is soos Hy is en soos Hy altyd sal wees. Prys dié Heer met blye galme!
Die probleem is dat sy gevolmagtigdes, dié wat Hy aangestel het om te regeer (vgl. Rom 13:1), nie noodwendig soos Hy is nie. Hulle is soos hulle is: Hulle sorg allereers vir hulleself. Eiebelang is hul hoogste belang. En daarom sal die siekes en swakkes, die weduwees en weeskinders en vreemdelinge nie in hul regeertyd ’n prioriteit wees nie.
In tye soos dié het gelowiges ’n dubbele opdrag: Ons moet bly bid vir die regeerders, en ons moet ons rustige en stil lewe gebruik om te sorg dat al die Here se kinders op hierdie regeerders se agenda kom.
Nee, ons moet juis nie goedgelowig oor ons konings wees nie; ons hoogste roeping is om die Koning te glo. Om sy verteenwoordigers te wees, voor elke troon en by alle soorte troosteloosheid.
Hoor my gebede, Here, vir hulle wat regeer. Leer my om te gaan help waar hierdie regeerders faal, juis by die weerloses.
Amen
Jesus bid vir diegene wat die Vader Hom gegee het (Johannes 17:9 “Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.”) en dit is beslis nie die regering van die Sy dag op aarde nie, nee dit is elke individuele kind van God en nie die kinders van Satan nie. Die kinders van Satan lieg en bedrieg en verbreek en daar is niks opbouends uit hulle nie.
Ja Paulus sê ons moet vir die regering bid maar Paulus is nie Jesus nie.
Amen
Dankie Ds Barend vir die perspektief. Dit is absoluut van toepassing op ons hier en nou in Suid-Afrika en oor die nasies van die hele aarde. Ons is geneig om teen ons benarde toestand vas te kyk terwyl dit wêreldwyd nie beter gaan nie.
Here, help ons om elke môre voor te begin want U raak nooit moedeloos met ons nie.