Gedagte vir die dag: Prys die Here

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig, en elke aand van u trou, om dit te doen met snaarinstrumente, met harp en lier. (Psalm 92:2–4)

Begin in die oggend aan ontbyttafel. Doen julle nog die tafelgebed of gryp elkeen sy eie kos en eet op ’n streep? Dek ’n slag tafel en vra jou huismense of hulle kans sien om soggens saam te eet, vat hande, maak oë toe en sê dankie. Net drie minute is nodig om mee te begin. Is dit vir julle on­moontlik om saam ontbyt te geniet? Kry ’n tyd wat almal pas. Dié wat vroeg eet of glad nie, kan ook kom oë toemaak. Dit gaan in die eerste plek oor God, nie oor die drie ekstra minute wat jou dag vertraag nie. Dis drie minute wat nie een van julle later sal wil misloop nie.

En vanaand? Eet julle voor die televisie met skinkborde op jul knieë? Maak ’n afspraak om later in die aand om die tafel te sit, die Bybel oop te maak en saam te lees. Deel die dag se dinge, praat oor God, vertel mekaar waar julle sy nabyheid nuut ervaar het en bid saam.

Liefde vir die Here begin by ouers wat hul doopbelofte nakom, nie deur hulle alte heilig te hou nie, maar deur die Here Jesus deel te maak van hul huisgesin.

Miskien is julle ’n musikale gesin wat saam kan musiek maak en sing? Wat van lofprysing? Of steek ’n gospel-CD in die speler en luister terwyl julle skottelgoed was. Respekteer en verduur mekaar se musieksmaak ook wat gos­pelmusiek en lofprysing betref. In ons oumas en oupas se tyd het gesinne saamgesing om die huisorreltjie. Dis so jammer dat baie van die goeie ou ge­woontes in onbruik geraak het en nie meer inpas by ons vinnige, vol lewe nie. Ons moet versigtig wees dat ons té besig raak vir Jesus.

Here Jesus, bly by ons, al is ons besig. Ons het u liefde nodig.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Josua Neethling ·

Amen, Prys die Here. Al die lof en eer kom die Here toe.
Dis so waar. Hoeveel tyd het ons regtig vir die Here? As ons die seën van die Here wil erwaar in ons huise moet ons soos Josua in die Bybel sê: ek en my huis sal/wil die Here dien. Daar is groot krag in lofprysinge, Dankie vir die wonderlike gedagte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.