Gedagte vir die dag: Raad vir ’n wenjaar

Boekevat - Perd in veld - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Lees: Efesiërs 2:1-10

In Christus Jesus het God ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Efesiërs 2:10)

In sy boek Geanker in sy liefde skryf Max Lucado dat daar drie dinge is wat jy kan doen om jou vanjaar uit die kloue van verveling te red:

  • Wees goed vir ander sonder om iets terug te verwag.
  • Doen iets waarvoor jy nie terugbetaal kan word nie.
  • En vergeet van jouself.

As jy in die gewoonte kan kom om hierdie drie dinge elke dag te doen, gaan jy in die jaar wat voorlê geweldige bevrediging ervaar. Boonop sal jy God se vrede ervaar: daardie vrede wat Hy jou gee wanneer jy in ooreenstemming met sy wil leef.

Jesus behoort die model te wees vir alles wat jy doen. Hy het in alles ander mense se belange voorop gestel. Hy het nooit dinge net ter wille van Homself gedoen nie, maar altyd na ander uitgereik en gekyk waar Hy hulle kon help. Hy het ook in alle dinge die wil van sy Vader gehoorsaam, selfs “tot die dood aan die kruis”, skryf Paulus in Filippense 2:8. (In Getsemane, terwyl Hy in doodsangs verkeer het, het Hy steeds gebid dat God se wil moes geskied.)

Lê jou vanjaar daarop toe om dié dinge aan ander mense te doen wat hul lewens makliker gaan maak of wat jy graag aan jouself gedoen sal wil hê. Kyk waar jy dinge kan doen wat ander mense sal help en bevoordeel. Begin sommer vandag, dan kan jy ’n wenjaar verwag.

Here, vergewe my dat ek tot nou toe so selfsugtig geleef het. Maak my ontvanklik vir die probleme van ander en gewillig om iets daaraan te doen. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.