Gedagte vir die dag: Raak rustig by God

Sonsondergang - Boekevat - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Lees: Psalm 131

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. (Psalm 131:1-2)

Die psalmdigter gebruik hier ’n pragtige beeld van volkome vertroue en rustigheid: dié van ’n kindjie wat rustig in sy ma se arms slaap. Só rustig kan jy by God wees. Ek lees onlangs dat sowat 100 miljoen Amerikaners jaarliks dokters gaan spreek oor hulle spanningshoofpyne. Hierdie hoofpyne wat 85% vroue en 63% mans jaarliks teister, is die gevolg van ons hedendaagse stresvolle leefwyse. Wetenskaplikes ontdek al hoe meer hoe geweldig nadelig erge stres is. Dit kan van maagsere tot kanker ver oorsaak. Dit affekteer jou manier van lewe en laat jou emosies hand uitruk.

Ook Christene ervaar erge stres – maar dit kan betyds ontlont word as jy die simptome betyds aanspreek. Een van die beste maniere is om jou spanning met God te deel, om Hom te vertel waaroor jy so gespanne is en dan rustig te raak by Hom. Hou op om te fokus op daardie dinge wat vir jou “te groot of te moeilik” is, moenie langer stres oor daardie dinge waaraan jy glad niks kan doen nie. Hou op om die ganse wêreld op jou skouers te probeer dra. Bring genoeg tyd aan God se voete deur sodat sy kalmte en vrede jou hele lewe kan deursuur en jou spanningshoofpyne dan iets van die verlede sal wees. “Innerlike kalmte bevorder die gesondheid,” beweer die spreukeskrywer tereg (Spreuke 14:30, NLV).

Here, verander my spanningsvolle manier van lewe en my angstige lewensuitkyk. Gee asseblief vir my u innerlike kalmte sodat my spanning kan verminder. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jeanette ·

Sulke ware woorde. Somtyds vergeet ‘n mens dit en word vasgevang in jou omstandighede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.