Gedagte vir die dag: Red ’n lewe

mense_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

My broers en susters, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom laat terugdraai, weet dan dat hy wat ‘n sondaar op sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood verlos en maak dat ‘n klomp sondes bedek word. (Jakobus 5:19-20)

Die vreugde van ‘n bekeerling is onbeskryflik. Het jy dit al beleef as iemand die Here vind? Ken jy die vreugde van opnuut kind van God wees? Het jy al iemand na die Here toe teruggebring?

Ons lees in Jakobus 5:19-20 dat ons mense moet help wat af-gedwaal het. Wanneer jy sien vriende of familie raak die pad byster, moet jy hulle met die liefde van die Here vermaan en help terugkeer van hulle verkeerde paaie. Wanneer so iemand weer die pad terugvind na God juig die hemele. Dit wat jy doen, red die persoon vanuit ‘n ewige dood tot die ewige lewe.

God dink so baie van ons dat Hy sy Seun gestuur het om ons te kom red. Ons is vir God so belangrik en so waardevol dat Hy ons graag wil red. Hy wil saam met ons in die hemel woon. Jesus sterf ‘n skandedood aan die kruis sodat ek en jy kan lewe.

Baie mense sterf sonder God. Om sonder God te wees, moet die verskriklikste alleenheid wees. Ons hoor die wonderlikste verhale van mense wat die wreedste omstandighede oorleef het, slegs omdat God saam met hulle daar was. God se kragtige teenwoordigheid het hulle die moed gegee om te oorleef.

God sal jou eer vir elke kind van Hom wat jy terugbring uit die dood. Red mense deur vir hulle te bid. Verkondig God se liefde aan mense wat in sonde leef. Moet hulle nie veroordeel nie, deel net God se liefde met hulle. God sal die res doen. Hy sal vergewe en hulle innooi by Hom.

Die vreugde van ‘n nuwe gelowige wat die Here vind, ken geen perke nie. God is goed, dis Hy wat sondes vergewe en nooit weer daaraan dink nie. Dit is Hy wat nuwe lewe gee.

Here, gee vir my ‘n liefde vir mense wat U nie ken nie. Maak my u instrument. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.