Gedagte vir die dag: Die “regte” nommerplate is nie gelyk aan seën nie

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel.  (Hebreërs 2:14)

Ek was verstom toe ek ’n grênd kar iewers opmerk met nommerplate wat uitroep “Blessed”. Ewe oorbluf was ek toe ek ’n foto van ’n luukse voertuig sien met nommerplate wat sê “God’s Gift”. Toe wonder ek wat arm mense moet dink as hulle by sulke “geseënde” voertuie verbyloop.

Luukse motors rym nie in my wêreld met seën nie. Voor jy my verkeerd hoor, dit is nie opsigself verkeerd om goeie motors te ry nie. Maar om dit eksklusief as ’n vertoonvenster van God se seën uit te stal, is om die verhaal van Jesus mis te verstaan. Hy het om ons onthalwe arm geword. Hy het Homself leeggemaak van hemelse glorie en in slaweklere tussen ons kom loop. Jesus se kruis is ons seën; sy lydingsbeker is ons lewe.

Ons as sy navolgers het ook ’n kruis om te dra. En ek dink nie dis luukse motors nie! Ons lewe is voltyds in diens van God.

Bron:
Op God se genadepad deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann Smith ·

Dit kan nie mis gekyk word dat daar mense is wat nie noodwendig wil spog met hul luukshede nie maar aan die wereld wil getuig dat alle goeie gawes van God afkom. Ons moet nie vergeet om hom die eer te gee nie.

ElgeraineR ·

Ek stem saam met die skrywer van die dagstuk, daar is baie ander maniere om dankbaarheid teenoor God te wys.
Seker niks fout met sulke nommeplate nie,
maar nie vir my nie.

bakkies ·

Ek dink die skrywer is jaloers. Die dag as ek die ‘lotto’ wen, sal ek God onophoudelik daarvoor dank, ek sal vir my ‘n ordentlike kar koop en ek sal ‘n nommerplaat opsit wat wys hoe dankbaar ek is. Hoe kan jy iemand oordeel oor sy nommerplaat as jy nie eens weet wat die storie agter dit is nie! En ek sal uitdeel aan armes sover ek gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.