Gedagte vir die dag: Regverdige mense haat leuens

see_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Lees: Spreuke 13:5

Regverdige mense haat leuens. Goddelose mense bring skade en skande oor hulleself. (Spreuke 13:5)

Daar is onlangs binne ’n kwessie van twee weke drie keer vir my gejok. Die leuens het so maklik gekom vir die mense wat dit vir my vertel het, dat dit nie eens by my opgekom het dat dit dalk nie die waarheid is nie. Ek was tot in my wese teleurgesteld toe ek besef die mense wat ek vertrou het, het vir my gejok.

Baie mense sê graag vir ander mense in die samelewing of by die werk dat hulle Christene is. Hulle getuig graag en wys mense tereg. Hulle veroordeel selfs enige sondes. Tog huiwer hulle nie om self ’n noodleuentjie te vertel om uit die moeilikheid te kom nie. Dit glip net so maklik soos ’n warm mes deur botter van hulle tong af. Maar ’n noodleuen bly ’n leuen.

’n Christen se eerste reaksie moet altyd wees om die waarheid te vertel; ’n leuen moenie eers ’n opsie wees nie. Dit is nie altyd maklik om die waarheid te praat nie, want die waarheid kan ook seermaak. As iemand byvoorbeeld ’n eerlike opinie vra, mag ons dit nie in oneerlikheid toedraai om die persoon se gevoelens te spaar of omdat ons nie die moed het om eerlik te wees nie. Mense waardeer nie altyd dadelik ons eerlikheid nie, maar sal met verloop van tyd sien dat dit vir hulle beswil was en dan waardering hê daarvoor.

Niks mag ons ooit daarvan weerhou om eerlik te wees nie. As jy die eerste tree gegee het op die pad van eerlikheid sal die volgende een makliker wees.

Ons het ’n plig en ’n verantwoordelikheid om eerlik sonder leuens voor die Here en ons medemens te lewe. Eerlikheid is ’n deug. Jy sal trots wees op jouself as jy hierdie hekkie oorwin en agterkom dat daar bevryding in waarheid is.

Here, ek wil in volkome eerlikheid lewe voor U. Ek wil lewe in u waarheid. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.