Gedagte vir die dag: Rentmeester

voetpad-brug-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

God het aan elkeen van julle ’n genadegawe gegee. Met hierdie gawes moet julle mekaar dien sodat God se ryk genade deur julle na mekaar toe kan vloei. (1 Petrus 4:10)

In God se groot genade gee Hy aan elke gelowige ten minste een geestelike gawe (dit kan ook meer as een wees). Om hierdie seën te verstaan en hoe dit die liggaam van Christus bou, sal groot persoonlike vreugde ontsluit en baie geleenthede skep om ander gelowiges te seën.

Enige vermoë om ons broers en susters te versterk, moet altyd na God wys, nooit na ons nie, want ons het niks gedoen om hierdie gawe te kry nie. Ons kan dit nie verdien nie en ook nie najaag nie, maar dit net met dankbaarheid ontvang. So ’n gawe is nie ’n talent nie, maar ’n vermoë en genade wat in ons werk deur die kragtige inwoning van die Heilige Gees. Soos ons dit gebruik om ander te dien, lief te hê en te ontwikkel, sal daar groot vreugde wees, en die Vader sal verheerlik word.

As rentmeesters, spoor Petrus gelowiges aan om dit wat God aan hulle toevertrou met verantwoordelikheid en integriteit te hanteer. Dis belangrik om te onthou dat ons nie hierdie gawe besit nie; daarom moet ons die rykdom daarvan konsekwent en toegewyd versprei, versigtig om God se opdrag uit te voer.

Here, niks sal my meer gelukkig maak nie as om U te hoor sê: “Mooi so, jy is ’n goeie en getroue slaaf. Lei my om ’n wyse rentmeester te wees van alles wat U aan my toevertrou – of dit geestelike gawes, tyd, geld, geleenthede, eiendom of talente is. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.