Gedagte vir die dag: Riglyne om die Herder te volg

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Lees: Johannes 10:1-5, 27

Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. (Johannes 10:3-4, 27)

’n Herder in Jesus se tyd het nie sy trop skape aangejaag soos dit dikwels vandag gedoen word nie. Hy het voor die trop uitgeloop en die skape, wat die stem van die herder geken het, het dan vrywillig agter hom aangeloop. Ons behoort ook ons Herder se stem te ken en Hom vrywillig te volg. Jou Herder praat met jou deur sy Woord, en jy volg Hom deur daardie Woord te gehoorsaam.

In haar boek oor Psalm 23, Vrede en vertroue vir ’n vrou se hart, verskaf Elizabeth George vier onfeilbare riglyne hoe jý dit kan regkry om jou Herder getrou te volg:

  • Volg die Herder. Kies om God se Woord te gehoorsaam.
  • Praat met die Herder. Bid voortdurend.
  • Luister na die Herder. Versadig jou met die Woord van God.
  • “Herkou” die Herder se kos. Bepeins en memoriseer sy Woord.

Hoe meer tyd jy met God se Woord deurbring, hoe makliker sal dit vir jou word om die Herder te ken en te volg. En hier is ’n stukkie kosbare raad van die Engelse sendeling CT Studd: “If you don’t want to meet the devil during the day, meet Jesus before dawn.”

Here Jesus, maak my gewillig om U elke dag te volg, om na u stem te luister, die riglyne in my Bybel te gehoorsaam; om my met God se Woord te versadig en dit te oordink. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.