Gedagte vir die dag: Rotse

rots_lighuis_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. (Psalm 18:3)

Die see is fassinerend. Die onstuimigheid, die skoonheid, die wyd uitgestrektheid daarvan. Die klanke en kleure wat jy op geen ander plek aantref nie. En die gevoel wanneer klein spatsels water van ’n rots opspring en jou teen die wang tref. O, en daardie reuk …

Die rotse is uniek. Die geweld van die branders wat teen reuseklippe kap, is soms vreesaanjaend, maar hulle bly staan. Die branders kan slaan en slaan en slaan, maar die rotse beweeg nie. Dit bly onwankelbaar staan.

In Psalm 18:3 beskryf Dawid vir God op ’n manier wat my aan die see se rotse laat dink: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”

Die Hebreërsskrywer ken ook hierdie onbeweegbaarheid: “Laat ons wat ’n onwankelbare Koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil” (Heb 12:28).

God se koninkryk is onwankelbaar. Hy kan nie teen sy wil beweeg word nie. Sy heerskappy kan nie ’n aks geskuif word nie, nie deur woeste waters of enige storms wat oor ons pad kom nie. Hy is ons rots, die Een by wie ons veilig kan voel en by wie ons skuil.

Wat sal dan ons reaksie wees op hierdie belofte en bemoediging van God se onwankelbaarheid? Hoe sal ons dié belofte lewend in ons hart hou?

Deur ’n lewe van dankbaarheid, en ’n hart vol eerbied en ontsag. (Lees weer Hebreërs 12:28 hier bo.)

Laat ons dan God se koninkryk, sy heerskappy, ontvang. Laat ons dankbaar wees vir Hom wat vir ons ’n rots is, ’n veilige plek, ’n onbeweeglike bron van beskerming. Laat ons aanhou glo dat sy heerskappy seker en vas is, onwankelbaar. En laat ons Hom in dankbaarheid en met eerbied en ontsag dien. Soos Hy dit wil.

Here, dankie dat U vir my ’n rotsvaste, veilige skuilplek is.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
zettie

Die Here is my verlosser, My skipper wat my na ‘n veilige hawe lei. My verlosser loop op water en se vir die storms om te gaan le. Ons dien ‘n groot God.

Dean

Dankie Here, Amen.

Agter die skerms.....

Elke dag lees ek die Gedagte vir die Dag – dit is wat my deurdra. Lees hom eerste en kyk dan verder na die dag. Amen