Wat ek gee, is beter as die suiwerste goud. My beloning is beter as die suiwerste silwer. Ek loop die pad van reg en geregtigheid. (Spreuke 8:19-20)
God gee nie altyd vir ons wat ons Hom vra nie. Hy sê soms “Nee”. Of so voel dit vir ons wanneer ons bid vir iets en dit nie ontvang nie, vra vir ’n positiewe uitkoms en dit anders uitwerk. Nou ja, op ’n manier kan ’n mens verstaan dat God vir jou “Nee” sê wanneer dit oor aardse goed gaan. Dis te verstane dat Hy nie gemanipuleer kan word om aan ons fisiese begeertes te voldoen nie.
Wat baie moeiliker is om te verstaan, is dat ons soms ’n baie edel en suiwer versoek het, en die uitkoms nie gunstig is nie. Soos wanneer ons bid vir iemand se herstel tydens ’n siekbed of die beskerming van ons geliefdes … en dit dan nie gebeur nie. Dan staan ons met groot vraagtekens voor ons Heiland se manier van doen.
Stephan Joubert het my baie gehelp om hierdie kwessie te verstaan. Hy verduidelik in sy boek My lewe in God se wil dat God se wil net een ding is: die redding van mense deur Jesus Christus.
God se wil gaan dus nooit oor óns planne nie. God se wil gaan oor God. Daarom voel dit soms vir ons of Hy “Nee” sê terwyl dit eintlik ’n groot “Ja” is.
Here, help my om u wil te aanvaar … al is dit moeilik om te verstaan.
“Wees stil en weet dat Ek God is”
“Let go and let God.”