Gedagte vir die dag: Ryk mense gaan sukkel!

twee_persone_sit_duine_sonsopkoms_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Markus 10:17-27

Jesus sê toe verder vir hulle: ‘Kinders, hoe moeilik is dit om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.’ (Markus 10:24-25)

Wanneer die ryk jong man by Jesus wil weet wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe, en Jesus hom vra om van al sy besittings ontslae te raak en Hom te volg, sien die man nie daarvoor kans nie (Mark 10:17-22). Die rede vir sy aarseling was dat hy te veel besittings gehad het. Hoe ryker ’n mens word, hoe moeiliker is dit immers om jou vertroue op jou geld en goed te laat vaar en net van Jesus afhanklik te wees.

Ons dink miskien dat die ryk jong man verkeerd was, maar hoeveel van ons sal bereid wees om alles wat ons het te verkoop, die geld vir die armes te gee en Jesus onvoorwaardelik te volg? Jesus weet maar te goed hoe moeilik dit sal wees, daarom vertel Hy sy dissipels dat dit makliker sal wees vir ʼn kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om in die hemel te kom.

‘Dit is nie die feit dat iemand rykdom besit wat hom uit die hemel sal hou nie, maar die feit dat die rykdom hóm besit,” skryf dr. Caird.

Die feit dat ryk mense wat verknog is aan hulle besittings moeilik in die hemel gaan kom, is so belangrik dat Matteus, Markus én Lukas daaroor berig (Matt 19:24; Mark 10:25; Luk 18:24‒25).

Miskien moet jy weer ’n keer gaan nadink hoe hoog jy jou besittings ag … Is dit nie miskien vir jou belangriker as God nie?

Vader, vergewe my dat my besittings soms vir my ’n struikelblok is as ek U wil volg. Gee dat hulle nooit vir my belangriker as U sal wees nie.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Freddie ·

Dis so waar. Selfs net gedagtes en sentimentele goed kan ons terughou.

jaco ·

as ek alles wat ek besit moet verkoop en vir die armes moet gee, gaan die armes NOOIT leer om self te werk ter verbetering van hulle omstandighede nie. Israel in die jaar 30 is ook nie Suid-Afrika in 2017 met rommelstatus ekonomie nie.

Realis ·

Ja Jaco of die herders wil he jy moet dit vir hulle gee dat hul lekker kan leef sonder om hard en verantwoordelik vir hul geld kan werk.

J. LUBBE ·

Jaco ek dink nie dit gaan oor armoedeverligting nie maar die verknogtheid aan die wêreld en die gepaardgaande onheile waarvoor mense hul siele verkoop.

Dr Hannes Opperman ·

Ek is n bejaarde man wat sy hele lewe hard gewerk het. Hard geleer om meer kennis te besit[totdat ek my [Drs graad verwerf het.]. Ek is n ingenieur van beroep en kennis verwerf. Op 75 is ek n arm man. Ek het ook Jesus getrou na gevolg. En so ver as wat ek die die Evangelie van Jesus verkondig. Ek is weer grbore en gedoop. Noudat oud is voel ek asof ek al my goed verkoop het en Jesus volg.
Ek het geleer alles is tervergeefs en ek waar is God nou!
Ek het niks, en dit is ye laat om ryk te word. As ek maar liewer al my geld gespaar het. Want waar moet ek nou gaan.Ek sal sterwe in ellende. Want waar is daardie God wat my moes help.Dit was alles tervergeefs.
Hoe werd os al die uitsprake van Jesus? Is dit waar of fals. Dot wat ons glo het dit enihe betekenis. Waar skuil God.
Groete
Hannes

Middelburger ·

Dr. Hannes jy sal jou rykdom eendag in die hemel ontvang. Hoop jy kry antwoorde op jou vrae en rus vir jou siel

MoloF ·

So n waardevolle les vir almal van ons want nie alles wat menslik tel , tek nie en nie alles wat getel kan word nie tel in die lewe. Laat ons onsself verootmoedig en mekaar begin liefhe soos onsself.

Ian ·

Ons besit niks nie, alles behoort aan God. Wees dankbaar vir wat aan jou geleen word. Wat doen jy daarmee? Ons is almal plakkers op God se land en die graf is nie groot genoeg vir jou meubeltjies en kar nie.

Rané ·

Dr. Opperman ek bid dat u op daardie plek sal uitkom waar u nie eers ‘n stukkie droë brood sonder God wil hê nie. Op daardie plek waar die satan aan u al die skatte en rykdomme van die wêreld kan aanbied en u kan sê “Nee, ek wil dit nie hê nie, dit is alles betekenisloos, ek het my God te lief!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.