Gedagte vir die dag: Rykdom is tydelik

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie. (Spreuke 23:4)

Salomo se vader, koning Dawid, het gesê: ‘As jou rykdom toeneem, moe­nie dat dit jou te na aan die hart lê nie’ (Ps 62:11).

Die Bybel waarsku oor rykes wat op hul rykdom staatmaak. Jesus vertel in Lukas 12 die gelykenis van die ryk dwaas en sê ons moet oppas vir ‘elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie’ (Luk 12:15).

Jy kan duur mediese sorg koop, maande aaneen in ’n waakeenheid lê en die beste kry wat daar vandag beskikbaar is. Maar God besluit op die ou end oor jou lewe. Wat help dit dat jy swoeg en sweet en jou gesondheid in gevaar stel, maar nooit waarlik vergenoegd is nie? In Prediker lees ons van mense wat hul lewe lank hard werk en dan hul besittings aan dwase en deurbringers moet nalaat (lees Prediker 2:18–25). Salomo praat van mense wat nooit die vreugde van hul handewerk kan geniet nie, omdat hulle altyd meer en meer begeer, nie ophou werk nie en hul rykdom naderhand te veel verantwoorde­likhede meebring. Hy praat ook van mense wat oormoedig verkeerd sake doen en alles verloor (lees Prediker 5:10–15). Weet dit – God is in beheer, Hy gee die rykdom, maar ook die gawe om dit te geniet (lees Prediker 5:18).

So het die ryk man in Jesus se gelykenis hom letterlik dood gewerk met die oog op sy aftrede. Toe hy eindelik so ver kom om te besluit dat hy genoeg weggesit het om jare lank lekker te kon leef, het God sy lewe weggeneem (lees Lukas 12:16–21). Waarmee het hierdie man hom sy lewe lank besig gehou? Waarmee hou jy jou besig?

Jesus sluit sy gelykenis af met die volgende slotwoorde: ‘So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie’ (Luk 12:21).

Here Jesus, help ons om skatte met ewigheidswaarde bymekaar te maak.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.