Gedagte vir die dag: Saaiers

hand-saad-stiltetyd-congerdesign.jpg

Foto: congerdesign/pixabay.com

Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is God se boodskap. (Lukas 8:11)

In hierdie bekende gelykenis maak Jesus gebruik van ’n alledaagse toneel op die Palestynse platteland. ’n Boer saai op sy land deur saad oor ’n betreklike groot area te strooi in die hoop dat dit op die geploegde dele sal val. Dié spesifieke veld het ’n klipperige gedeelte gehad en ’n goed uitgetrapte voetpaadjie het daardeur gekronkel. Aan die hand hiervan beskryf Jesus die verskillende maniere waarop Christene die boodskap oor God ontvang.

Wat uitstaan, is dat die woord van God kan “ontkiem” en geestelike lewe kan voortbring. Tog is die saad kwesbaar, selfs nutteloos sonder goed bewerkte grond. Hiermee illustreer Jesus hoe belangrik dit is dat ons die harte van mense wat ons gaan bedien, sal voorberei deur veral gebed, sodat die woord kan wortelskiet en groei.

Elkeen wat Christus bely, het hierdie kosbare voorreg om aktief betrokke te wees by die uitbreiding van sy koninkryk, die woord te saai op goed voorbereide grond en gelowiges by te staan op hul pad na volwassenheid. Elkeen het die potensiaal om ’n groot oes in te bring, hetsy 100 of 60 of 30 maal soveel as wat oorspronklik gesaai is. Wat ’n belofte!

Abba, wek ’n nuwe generasie saaiers op  –  leraars wat u Woord met passie en groot vrymoedigheid wyd en syd saai. Hetsy binne of buite seisoen, maak hierdie manne en vroue kreatief om op nuwe en relevante maniere u woord uit te dra. Bowenal, seën hul gehoorsaamheid en hul geloof. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.