Gedagte vir die dag: ’n Saak van blydskap

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Lees Johannes 15 :9-1 7

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees Julle moet mekaar liefhê soos  Ek julle liefhet” (Johannes 15:11-12)

Liefde het klaarblyklik vele gesigte. Dit leer die Bybel én die lewe ons. Ja, die Woord het ons al geleer dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het. Dat ware liefde nie in ons idee daarvan te vinde is nie, maar in die manier waarop God ons liefhet. In die Evangeliehoofstuk voeg Jesus boonop by: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende … ” (v. 13-14).

’n Rukkie later sou Hy juis dit doen, sy lewe vir sy vriende aflê. Dit alles lê dus ten grondslag van Jesus se dringende, herhalende oproep hier: Julle moet mekaar liefhê!

Dit kan wel as ’n verrassing vir baie kom wanneer Hy sy motief vir hierdie opdrag verklap. Blydskap, sê Hy, niks minder nie as volkome blydskap. Dit is hoekom Ek soveel klem daarop lê, sê Hy. Dit is waarom Ek die liefdesopdrag aan julle gee, hoekom Ek júlle reguit so beveel. Sodat julle kan bly wees.

Liefde – ware liefde, die liefde wat God het, die liefde waaraan daar geen einde is nie en waarvan daar geen groter voorbeeld as Jesus se kruisdood is nie – is dus ‘n saak van blydskap. Ja, ja,

liefde is opwinding, soms. Dit is trane, dikwels. Dit is verydeling, ongelukkig ook. Maar veral, verál, is liefde iets wat jou bly maak. Volledig, voluit bly.

Liefde is God se glimlag vir sy wêreld en sy kinders. Dit laat die kinders se trane opdroog, maak hul hart sag en gee aan hul getuienis werklike waarde.

Ek sien die liefde in U oë wanneer U na my kyk, liewe Here. Dit maak my so bly!

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Von ·

Dankie Here Jeusu dat U groot genade en liefde ons omsluit. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.