Gedagte vir die dag: Saam eet aan tafel

 tafel_ete_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam met sy medetollenaars en ander berugte sondaars by hom te kom eet. (Daar was baie van hierdie mense wat agter Jesus aan gekom het.) (Markus 2:15)

In hierdie wonderlike tyd van die jaar waar baie van ons met vakansie is, is etes vir ons belangrik. Gedurende Desember eet ons gewoonlik ook ‘n bietjie meer. Ons braai baie en die familietyd is kosbaar. Ons eet ook meer dikwels aan tafel.

In Markus 2 lees ons Jesus het saam met die tollenaar Levi aan huis gaan eet. Die dissipels was ook daar. Jesus kuier saam met al die mense aan tafel. Hy voer gesprekke en ontvang mense in sy koninkryk.

Die eerste woorde wat die Here in Genesis 2:16 gesê het, was dat Adam vrylik kan eet van alles in die tuin. Dit is vir my ongelooflik dat so baie kosterminologie aan Jesus gekoppel word. Hy is die brood van die lewe. Aan tafel eet ons ook van die Brood van die lewe. Jesus is ons reddingsbrood!

Ons kan gerus as gesinne meer saam aan tafel eet. Dit maak deure oop vir gesprekke oor die Here. Dit is ook die beste plek om huisgodsdiens te hou. Saam eet is die beste manier van verhoudings bou in die gesin. In hierdie tyd van die jaar wanneer ons rustiger is, is daar tyd om luilekker te kuier om ‘n tafel. So ‘n gesinstradisie bou hegte gesinsbande.

Neem sommer vandag nog ‘n besluit dat julle gesin meer aan tafel gaan sit en eet en definitief nie voor die TV nie. Hou vol met hierdie tradisie en sien hoe jou kinders se gesinsbande versterk en hulle wonderlike gelowige volwassenes word as gevolg van net saam eet.

Here, hoe wonderlik is dit dat ek ook as ma van die huis kan werk aan ‘n tradisie waar U welkom is aan ons gesin se tafel. Seën ons samesyn aan tafel ook in hierdie tyd. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.