Gedagte vir die dag: Saam met Jesus gekruisig

man-with-open-arms-705x335.jpgOns weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. (Rom 6:6)

Deur saam te stap op Jesus se kruisweg het ons hierdie Paasfees deel geword van alles wat met Jesus aan die kruis gebeur het. Dit was opnuut vir ons ’n demonstrasie van God se genade en liefde vir ons. Jy kan probeer om God se genade te verdien deur die wet te onderhou, of jy kan met sy genade mors deur weer sonde te doen omdat God jou tog maar op die ou end weer gaan vergewe. Ongelukkig is daar maar min Christene wat sonde ernstig genoeg opneem.

Dit is nodig dat jy God se genade reg sal verstaan: Jesus sterf aan die kruis in jou plek, maar jy moet ook gewillig wees om te sterf, sáám met Hom. Jou natuurlike, sondige geaardheid behoort nou saam met Jesus dood te wees. Jy moet bereid wees om te sterf aan elke sonde wat daar nog in jou lewe teenwoordig is. Elke keer as jy weer sonde wil doen, herinner jouself daaraan dat jy eintlik daarvoor dood is en weerstaan die sonde in Jesus se krag.

As jy vir die sonde gekruisig is, beteken dit ook dat jy van nou af vir Jesus sal lewe. Hy het jou nuut gemaak; lewe van nou af soos God wil hê jy moet.

Here Jesus, ek is jammer dat my ou natuur nog soms so springlewendig is. Help my om werklik dood te wees vir die sonde in my lewe en van nou af net vir U te lewe. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.