Gedagte vir die dag:  Saam met my Broer!

Reenboog_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Hebreërs 2:10-18

Hy wat heilig maak, sowel as die mense wat geheilig word, is almal uit een Vader. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie. (Hebreërs 2:11)

Ons het nie eintlik op vandag gereken toe hierdie jaar begin het nie. Ook nie toe ons later vir 2020 begin beplan het nie. ’n Oujaarsdag kry mos eers regtig betekenis as die laaste uur daarvan aanbreek en die minute afgetel word. Wanneer die laaste minuut se sekondes begin aftik. Tot by 10, 9, 8 …

Dan lui die klokke en al wat leef en beef en wakker is, bestorm die nuwe jaar. Goed, nie noodwendig “bestorm” nie, nie almal nie; daar is mos dié wat dit voetjie-vir-voetjie betree. Versigtig. Selfs bangerig.

Is dit verkeerd om te dink dat dit juis die wêreld se grootmense is wat rondkyk-rondkyk ’n nuwe tyd binnegaan? Hulle wat die littekens van ’n geleefde lewe aan liggaam en siel dra? Of wat bloot weet dat hulle nou nie meer so onaangetas soos verlede jaar dié tyd is nie?

Hierdie Hebreërsverse is juis vandag vir hulle gegee, hierdie “mense van vlees en bloed” (v. 14). Omdat Jesus self vlees en bloed geword het, verstaan Hy hul kommer en vrees, sê die skrywer. In sy volledige vereenselwiging met hulle, is die barmhartigheid wat Hy aan hulle bewys, sonder weerga.

Maar die heel beste wat die skrywer vandag vir hierdie Gods- kinders kan sê, is dat Jesus hul broer is. Ons mag dus glo dat ons met broederlike barmhartigheid en begrip oor die nuwe jaar se drumpel gedra word. Hy sal ons nooit los nie, Hy sal altyd vir ons in die bres tree. Dit wat in hierdie nuwe jaar aan ons wil kom vat, sal eers by Hom moet verbykom.

Nie ’n tree nie, Here, nie ’n enkele tree sonder U nie. In u hande is ek veilig.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos

Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.