Gedagte vir die dag: Saam

kers_bybel_lig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Psalm 133

Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! (Psalm 133:1)

Onderlinge liefde is een van die pilare van die geloof in God. Dit is die waarmaak van die groot gebod. Johannes skryf immers: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê” (1 Joh 4:20-21).

Eenvoudig, nie waar nie? Doodlogies.

Helaas nié. Dit blyk dat gelowiges God dikwels met soveel oorgawe liefhet dat hulle hul liefde opgebruik. Daar is weinig vir die medemens oor. Só lyk dit altans. Want hoe anders verklaar ’n mens die skynbaar nimmereindigende galbrakery en aan-die-keelgrypery en in-die-rug-stekery waarin hierdie belydende Godliefhebbers so uitblink?

Hoe verduidelik ’n mens aan ongelowiges dat dit maar is soos gelowiges is? Dat sulke onderlinge twiste tog nie aan té hoë standaarde gemeet moet word nie? Dat gelowiges ook maar mens is?

Dat mense wat van beter weet hul rug vir hul naaste kan draai en dink dat hulle steeds vir God kan sien? Moet jy dan hiermee saam bely dat hul luidkeelse liefde vir God dikwels ’n masker is waaragter hulle die haat vir ’n medemens lustig kan vertroetel?

Ook maar mens …?

Wel, dan verbeur mense soos ons ook die rykdom wat naasteliefde ons bring.  Misreken ons ons met God se eenvoudige standaarde. Bly ons arm en gebrekkig en oningelig en doodverlief op onsself. Kammakastige Godliefhebbers. Opregte Godloënaars.

Liewe Here, ek sukkel só om lief te hê. Moet my nie verwerp nie. Leer my!

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae