Gedagte vir die dag: Sabbat

vyeboom

Foto: Reint Dykema.

Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: ‘Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer’ (Eksodus 5:6-8)

Toe die Here die Israeliete uit hul slawerny bevry en aan hulle die Tien Gebooie as riglyn vir hul nuwe lewe saam met Hom gegee het, was daar nêrens ’n gebod te vind soos “jy moet dankbaar wees” nie. Tog is daardie tien beginsels van God se verbond, sy kontrak met sy volk, deurweef met dié boodskap: “Wees dankbaar!”

Dink byvoorbeeld aan die vierde gebod, dié oor die sabbatdag. Die Israeliete moes dit eerbiedig: Ses dae mag hulle gewerk het, maar op die sewende dag moes hulle rus.

Vir die Israeliete was dit iets nuuts; hulle het sopas uit ’n situasie gekom waar hulle met die sweep gedryf is om harder te werk, om meer te lewer. Hulle was die Egiptiese farao se slawe en ruskans was nie ’n opsie nie. As hulle nie telkens hul produksie verhoog het nie, was daar moeilikheid. Hoor dan: “Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: ‘Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer’” (Eks 5:6-8).

Die farao se ekonomie was gebaseer op die klaarblyklik onversadigbare behoefte na meer en meer. Dit wat jy doen of gee, was nooit genoeg nie.

En toe is daar die Een wat sê: “Ek is nou jul Eienaar. Daar is nie meer ’n farao wat ’n slawedrywer is en meer as sy pond vleis eis nie. Ek is nou jul God en Ek sê dat ses dae se werk genoeg is. Dat jy nie lui of onproduktief is as jy op die sewende dag rus nie. Inteendeel: Ek eis dat jy sal rus.”

God se ekonomie is gebaseer op die beginsel dat ses dae se werk genoeg is. Op die sewende dag sal julle rus. Want daar is genoeg. Nie net die mense moes rus nie, maar ook die slawe, die donkies, die vreemdelinge wat by hulle bly – almal en alles. Die sabbat, God se rus, is vir almal.

Ondankbaarheid maak ons onvergenoeg. Ons bly pal op soek na meer en meer. Ondankbaarheid plaas ons reg in die middel van die farao se soort ekonomie.

Dankbaarheid doen die teendeel: Dit trek ons tot binne-in God se ekonomie-van-genoeg. Dit bring ons tot in sy rus. Die farao se ekonomie van ons-wil-meer-en-meer-hê maak ons slawe. God se ekonomie van genoeg is almal beskore, dié wat die vryheid van sy liefdesverbond vir hulleself toe-eien.

Here, help my om te sien dat daar binne u verbond genoeg is om van te lewe.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

(Met erkenning aan www.aeon.com: William R Black, Let’s bring back the Sabbath as a radical
act against ‘total work’)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

Von ·

Dankie vir genade ……Here U wat ons diepste wese ken was ons skoon van gulsigheid.

Kobus ·

Die dag van rus word spesifiek vir ons uitgewys as die 7de dag – nie ‘n siklus van 6 dae werk en 1 dag rus nie. Ons verkies om nie Jesus se sabbat te hou nie maar die siklus te hou soos dit ons pas.

Die sabbat wat God beveel (en Jesus ook gehou het) was die 7de dag – Vrydagaand tot Saterdagaand in ons tyd. Bestudeer self Exodus 20:8-11 en besluit dan wat God werklik beveel.

Bedink ook hierdie woorde van Jesus soos Hy in die nuwe testament leer:
Matthéüs 5:17-19 “17MOENIE dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. 18Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. 19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.” Ook Lukas 16:17
2. Matthéüs 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Wat is Sy wil volgens Exodus 20?

Prys die Allerhoogste en hou SY GEBOOIE.

Drikus Kotze ·

Die kwessie van die Sabbat en die Sondag is tydens die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) bespreek waarna ‘n paar reëls vir Gereformeerde Kerke neergelê is:

(i) In die vierde gebod gaan dit om ‘n seremoniële sowel as morele saak. (ii) Seremoni-eel was die rus op die sewende dag ná die skepping en die streng onderhouding daarvan vir die Joodse volk verpligtend. (iii) Dis egter moreel korrek om ‘n bepaalde dag vir gesamentlike godsdiensoefening te hou. (iv) Gelowiges moet Sondae daarvoor afsonder. (v) Sondae is sedert die tyd van die apostels as geleentheid vir geloofsgemeenskap onderhou. (vi) Dat daar op Sondae van alle slaafse (besigheid-of loon) arbeid gerus moet word. So ook alle soorte ontspanning wat godsdiensbeoefening kan belemmer.

Piet ·

@Drikus Kotze,

Die Allerhoogste se reëls verander nooit. Die mens wil so graag hê dat Hy by hulle aanpas, in plaas van dat ons by Hom moet aanpas. Die Sabbat is saterdae en nie sondae nie. Dit sal so wees tot en met Jesus se terugkeer.

Die apostels het juis op sondae bymekaar gekom omdat daar op die Sabbat NIKS gedoen mag word nie. Nie eers besoeke aan die kerk (sinagoge) nie. Net iets wanneer die kalf in die put is. Jesus se woorde.

Jou onkunde kom ook sterk deur met jou verwysing na die Joodse volk, in plaas van die Israelietiese volk. Die Jode was maar net een stam uit die twaalf stamme.

Transvaalse nooi ·

Die Sabbat is bedoel om besig te wees met die dinge van die Heere, ons behoort kerk toe te gaan, Hom te loof en te prys en dankbaar te wees vir alles wat ons uit genade ontvang

Vintcent ·

Dankie Maroela dat jul altyd bereid is om Christelike bydraes te deel van jul lesers. Terwyl ander afbreek, bou jul mure.

Oom Johan ·

Kobus is reg! Die Allerhoogste het na die aanvanklike skepping, die 7-dag, afgesonder ( lees: Geheilig ) sonder dat daar ‘n Jood, Charismaat of ‘n sewende-dag-aventis teenwoordig was! Dus is die 7-dag YHWH se dag, Hy’t die dag geskape en beveel as ‘n rusdag, tot in ewigheid.

Nou wanneer het die ewigheid dan verander? Toe die sogenaamde Christene na Konstantyn geluister het wat in 321 NC besluit het Sondag is nou die nuwe rusdag! Gaan kyk maar na enige kalender en sien wanneer is die sewende dag, geveinstes!

As jy nog twyfel, gaan doen moeite en bestudeer Matt 28: 1 en Markus 16:1 en vra jou predikant hoekom word daar vir jou gelieg? Weet jy wat gaan hy sê? Hy gaan vir jou ‘n storietjie vertel dat Messiah op die Sondag-oggend opgestaan het, dus daarom dat die skynheilige kerk nou die Sondag as die 7-dag gebruik as rusdag. Net soos dit in Daniel 7 : 25 voorspel is……..

Kobus ·

Dankie vir daardie verduideliking Oom Johan.
Ons word vertel dat Jesus Vrydag gekruisig is en op Sondag oggend opgestaan het, Hy het egter in Matt. 12:40 gesê dat Hy 3 DAE EN 3 NAGTE in die graf sal wees. Tel soos ons wil, daar is nie 3 dae nie (1 dag en 2 klein gedeeltetjies van 2 dae) en beslis nie 3 nagte. Wie moet ek nou glo? Ek glo die Een wat geen deel aan die leuen het nie.
As U gaan soek sal u vind dat Jesus nie op die Vrydag gekruisig is nie en ook nie op Sondag oggend opgestaan het nie. Waar kry ek dit? In presies dieselfde Afrikaanse Nuwe Testamentiese vertaling wat ons almal lees (of is dit nou “scan” in die lig van lewenslange indoktronasie?) Glo my nie, vra Jesus om jou te wys, Hy is steeds almagtig en heeltemal by magte om Sy kinders te antwoord, selfs in die sondige tyd waarin ons leef.

Een voorbeeld: Joh.20:19 “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” – Aand van die 1ste dag van die week is Saterdagaand en nie Sondagaand nie, heeltemal duidelik, tog het ek ook jare lank onder effektiewe indoktronasie gedink dit verwys na Sondagaand maar Hy is getrou en leer ons as ons werklik wil weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.