Sadrag, Mesag en Abednego – drie vriende in die geloof

Maar, U Majesteit, nou is daar Jode, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u in beheer van die administrasie van die provinsie Babel geplaas het, wat hulle nie steur aan u bevel nie. Hulle dien nie u god nie, hulle aanbid nie die goue beeld wat u laat oprig het nie.” Daniel 3:12

Groepsdruk. Konformiteit. Word hierdie begrippe genoem, dink ons dikwels dat dit iets is wat tieners beleef, maar hoe dikwels het jy nie ook al ter wille van die vrede met die groep saamgestem nie? Al wat die Babiloniese koning van hierdie drie vriende verlang het, is dat hulle voor ‘n goue standbeeld moes kniel en dit aanbid. Kon hulle nie maar gemaak het asof hulle dit doen nie? Die ander Jode sou tog nooit gedink het dat hulle dit werklik bedoel nie.

Die Jode wat hulle in ballingskap in Babilonië bevind het, het drie keuses gehad. Hulle kon hulle geloof aflê en die Babiloniese godsdiens aanvaar. Hulle kon ‘n kompromis aangaan deur God nie heeltemal te verlaat nie, maar net ‘n paar veranderinge aan te bring waar nodig sodat hulle met hulle nuwe “heersers” oor die weg kon kom. Of … hulle kon die goeie stryd stry. Hulle kon die moeilike weg volg en aan die Here getrou bly. Sadrag, Mesag en Abednego het laasgenoemde gekies. In hulle verbintenis as vriende en in hulle geloof het hulle die krag gevind om die druk te weerstaan. In die Bybel word Sadrag, Mesag en Abednego altyd saam genoem. Nie een van die vriende doen of sê iets sonder die ander twee nie.

Ons wil graag deur ander aanvaar word, ons wil by die groep inpas. Op sigself is daar niks mee verkeerd nie. Die vraag is egter by wie wil ons inpas? Sadrag, Mesag en Abednego het hulle keuse gemaak. Hulle was deel van God se volk en dit is wat hulle wou bly, selfs al sou dit beteken om in ‘n brandende oond gegooi te word om lewendig verbrand te word.

Gebed: Here, dankie vir my vriende in die geloof, diegene wat my help om die versoeking te weerstaan om myself aan die wêreld oor te gee. Help my om ander te help om getrou aan U te bly. Amen

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.