Gedagte vir die dag: Sag-wees vereis oefening

See-strand-rus-boekevat.jpg

Foto: flowercampings.com

Julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. (Romeine 8:9)

Toe Jesus gesê het die gees is gewillig, maar die vlees is swak, het Hy presies geweet hoe swak ons ou mensdom kan wees. Hoe maklik dit vir die vlees is om maar weer in sy ou gewoontes te verval. Hoe vinnig die ego weer opstaan as ons hom neer gelê het. Ja, jy sal ook weet hoe gou jy die versoeking ervaar om nié die goeie te doen nie, nié die Gees beheer te gee nie. Dis so natuurlik om onsself weer te laat opstaan. Die Gees dood te druk.

Juis daarom vereis die vermoë om ’n sagte hart te kweek aanhoudende gebed en oefening. Behalwe om voortdurend te bid dat die Gees ons na harte sal beheer, moet ons ook in ons daaglikse lewe óéfen om Hom te volg, sy stem te gehoorsaam, sy hart van liefde te leef. En soos enige oefening vereis dit dissipline, harde werk, opstaan-na-die-val … deursettingsvermoë. Dit vra dat ons ons geestelike spiere gereeld sal versterk met die Woord en met stiltetye by ons Vader se voete. Dit vra ’n deurlopende afhanklikheid van Hom.

Om ’n sagte hart te ontwikkel en met oë van deernis na ander te kyk, kan net gebeur as ons dit keer op keer waag om ons Meester se voetspore dag na dag te volg.

Vader, woon vandag my hele hart vol. Heeldag. Altyd.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.