Gedagte vir die dag: Saggeus, ’n onwaarskynlike gasheer

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Hy het toe gou af geklim en Jesus met blydskap ontvang. (Luk 19:5-6)

Saggeus se storie gryp mense se verbeelding aan. Saggeus se naam het ’n glimlagnaam geword. Jy kan tog nie help om te glimlag oor die kort mannetjie wat boomklim net om vir Jesus te siene te kry nie. Maar die storie het veel meer om die lyf as die komiese momente. Vir die mense van Jerigo, en dus vir almal wat deel van die optog saam met Jesus was, het Saggeus se naam ’n wrang smaak in die mond nagelaat. Hy was ’n gehate man. ’n Jood wat sy eie mense met tolgeld bedrieg het. ’n Jood wat vir die gehate Romeine gewerk het. ’n Man wat net aan sy eie sak gedink het – materialis en volksverraaier! ’n Hopelose mislukking van ’n mens.

En tog wil hy vir Jesus sien. Wat het in sy kop aangegaan? Wat het hy van Jesus gehoor wat hom so beïndruk het? Die feit dat hy in ’n boom geklim het om sy gebrek aan lengte te oorbrug, wys net dat daar ’n dringende begeerte by hom was om vir Jesus te sien. Was dit net nuuskierigheid of was die Gees van God alreeds besig om die brug tussen hopeloosheid en hoop te bou?

Toe Jesus hom roep, was daar by Saggeus geen sweem van huiwering nie. Hy het afgeklim en saam met Jesus na sy huis toe gegaan. Ten spyte van ’n skare se misnoeë, ten spyte van sy slegte reputasie, was daar vir Saggeus nogtans hoop. Jesus het vir hom hoop gebring. Vir Saggeus het daar ’n nuwe lewe aangebreek na sy ontmoeting met Jesus. Hy het inderwaarheid ’n kind van Abraham geword, ’n opregte gelowige.

Die Heilige Gees bou die brug tussen hopeloosheid en hoop.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Domus Genus ·

Sommer King James . of ou vertaling .Lees weer Hy kan gered word want hy IS n kind van Abraham : Daar kom redding OMDAT hy weer sy naaste liefhet. Lukas 19;10 .Jesus kom soek wat verlore is . Iets kan slegs verlore wees as dit myne is . Skryf my in jou pa se testament in asb . Dan kan ek ook sy kind word . Wel as dit die moeite werd is .. Al n “geestelike kind” gesien ? Disney dinge

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.