Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. (Matt 11:28-30)
Kom ons begin by die teenoorgestelde van sagmoedigheid, naamlik hardvogtigheid. Dit klink hard op die oor, maar dis nogal ’n gesindheid waaraan ons ons dikwels skuldig maak sonder dat ons dit so bedoel. Ons besluit nie om hardvogtig te wees nie, maar dit gebeur sommer so in die gang van sake. ’n Verslonste bedelaar klop aan jou deur vir ’n aalmoes. Jou eerste vraag is: “Waarom werk jy nie?” By jou vriende kla jy oor al die bedelaars en kansvatters en nikswerd rondlopers terwyl jou vrieskas vol vleis is en jou kruidenierswarekas niks kortkom nie. En jy dink nie aan onverdiende genade nie. En jy vergeet dat genade bedoel is om uit te deel. Daar is in jou hart net nie genoeg plek vir die uitgeworpenes nie. Dít is hardvogtigheid.
En nou vir die beter woord: sagmoedigheid. Dis ’n woord wat van teerheid en deernis getuig. Dis ’n omgeewoord. Dit is inderdaad ’n Jesuswoord. Sagmoedigheid is nie soos ’n kledingstuk wat ’n mens uit vrye wil by geleentheid aantrek nie. Dit is veel eerder ’n gesindheid wat deel van jou elkedagse lewenstyl uitmaak. Maar nee, dit is nie iets wat sommer vanselfsprekend deel van jou geestelike mondering is nie. Dit is iets wat as ’n vrug van die Heilige Gees in jou lewe inslag vind. ’n Mens bid daarvoor. Jy oefen jou daarin. Jy stry doelbewus teen die sonde van hardvogtigheid. En jy hou jou oë op Jesus wat self die verpersoonliking van sagmoedigheid was.
Kyk met begrip en ’n sagte hart na die randfigure wat jou pad kruis.
Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Baie mooi dagstuk iets wat almal elke dag in hierdie (wêreld) kan toepas! Dit tel vir myself!!
Dankie
Marelize Smit
“‘n Verslonste bedelaar klop aan jou deur vir ’n aalmoes….” Ds Johan Smit en andere, lees asb die boek Toxic Charity deur Robert Lupton, of minstens die artikel daaroor in Joy! tydskrif, of kontak Hardus Zevenster, hoof van Radio Tygerberg en voorsitter van die Voortrekkerweg verbeteringsdistrik.
Baie Dankie vir die toevoeging tot my stiltetyd. Ons predikant het drie Sondae terug oor “DIE
KRAG VAN SAGMOEDIGHEID” gepreek en het n groot inpak op my gehad! Baie dankie dominee.
Lees ook Matteus 5:5