Gedagte vir die dag: Sagte oë!

Knysna_Berg_twee_manne_stap_see.jpg

Foto: Melanie Schlenter

Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig. Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle die waarheid leer ken. (2 Timoteus 2:25)

Ons gesin het ’n manier om mekaar stilweg te maan wanneer ons agterkom dat die ander een uitgesproke is oor iemand anders met twee woorde: “Sagte oë!” En ons almal weet wat dit beteken. Ons weet dat die ander persoon vir ons wil vra: “Het jy in sý skoene geloop? Want as jy het, sal jy met sagte(r) oë na hom/haar kyk.”

Natuurlik hou ons nie altyd daarvan as die ander persoon ons in ons uitgesprokenheid stop met die “Sagte-oë”-aanmaning nie. Want soms is ’n mens regtig kwaad, ongelukkig of sommer net geïrriteerd met iemand. Ander kere weer staan ons stom oor wat ander mense doen en kyk ons afkeurend – selfs liefdeloos – na hulle.

Dit is nie altyd maklik om met sagte oë deur die lewe te gaan nie. Ons bly immers mense wat van mekaar verskil, ons eie stempel wil afdruk en dikwels glo dat óns reg is. Maar sagte-oë-wees is presies wat ons Here ons kom leer het. Presies wat Hy van ons vra wanneer Hy sê dat ons ander soos onsself moet liefhê.

Waag dit om vandag met sagte oë te leef teenoor die mense op jou pad. Jy sal gou agterkom hoe ánders hulle dan lyk! Hoe ánders jy teenoor hulle voel. Hoe jy hulle – ongeag – kan liefhê.

Here, leer my oë – my hart – om sag te kyk.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.