Gedagte vir die dag: Seën vir broers wat saam woon

Stiltetyd-25-.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ’n lang, lang lewe. (Psalm 133:3)

Ons onderlinge verhoudings laat by tye veel te wense oor. Dit het aftakelende gevolge vir die kerk van Christus. Die groei van die kerk word daardeur belemmer. Waar onderlinge samewerking ontbreek, word die kerk lamgelê. Gelowiges verloor entoesiasme. En wat meer is: Ons getuienis ly skade. Die kerk verloor geloofwaardigheid.

Aan die ander kant egter, wanneer broers mekaar vind en saamspan in belang van hulle Heer en Koning, dán gebeur daar dinge. Luister hoe beskryf die digter dié goeie samewerking: Dis soos die Hermondou wat die berge van Sion bedrup. Dit bring lewe en groeikrag. Dit omskep ’n dor landstreek in groen velde.

Ek wonder soms of dit nie presies die rede is waarom die kerk aan groeikrag kortkom nie, ons kry te min van die “dou van die Hermongebergte” af. Daar is te veel vuurvreters in die kerk van die Here wat brande stig in plaas van groeikrag bevorder. Kom ons eien vandag se seën vir ons toe deur aan dié voorwaarde gehoorsaam te wees. Kom ons stel dit vir ons ten doel om eensgesindheid en onderlinge vrede in die kerk te bevorder. Dan sal ons die “dou van die Hermonberg” in oorvloed ervaar. En dit sal bewys dat ons God ken en sy kinders is.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veronica ·

MM . . . Graag wil ek vanoggend my opinie hier lig
Hierdie selfde woord in PS 133.3 het ek nou presies 3 keer vanoggend gehoor in n kwessie van 4 ure so dis n bevestiging beslis en dankie !!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.