Gedagte vir die dag: Seënbede

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het vir Moses gesê: ‘Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.’ ( Numeri 6:22–27)

Is jy ook een van daardie haastige kerkgangers wat na jou motorsleutels en jou handsak gryp terwyl die dominee die laaste seënbede oor jou uitspreek? Hoor jy nie? Luister jy nie wat die Here vir jou sê nie? Dis nie maar bloot mooi woorde hierdie wat die sinode voorgeskryf het of die predikant uitgedink het nie. Dis woorde wat ons Hemelse Vader vir Moses gegee het so­dat die priesters die volk daarmee kan seën. So is elke seënwens wat pastore, predikante en priesters elke Sondag en by baie ander geleenthede oor hul ge­meentelede uitspreek, woorde wat deur God geïnspireer word.

God wil hê ons moet hoor wat Hy sê, nie haastig wees nie, nie gereedstaan om uit te storm – Bybel in die een hand, sleutels in die ander – terwyl ons nog die amen sing nie. Ons beaam tog met ons ‘amen’ God se woorde, ons dank Hom daarmee.

Paulus het sy briewe ook met ’n seëngroet afgesluit. Ons behoort mekaar al­tyd so te groet: ‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees’ (2 Kor 13:13).

Ek het ’n Malawiese vriendin gehad wat nie Afrikaans kon verstaan nie, maar graag saam met ons kerk toe gegaan het om, soos sy dit gestel het, haar seën te ontvang. Luister ons wat die woorde verstaan, dan nie? Besef ons wat dit beteken om ’n nuwe week in te gaan onder die weerklank van God se seënwens?

Here, hierdie seënbede wat deur die eeue heen weerklink, is vandag vir my nog ’n versekering van u liefde vir my. Ek voel veilig en geborge. My werk en my huis is in u hande. My gebede sal verhoor word, op welke wyse ook al. U weet die beste.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fj ·

Geniet die boodskappie elke oggend nadat ek godsdiens gehou het. Baie mooi ene vanmore,en ook baie waar.Dankie.

Azar ·

Hoeveel huisgesinne hou nog saam stiltetyd elke aand?
Hoeveel huisgesinne, of man-en-vrou – stop vir ‘n oomblik en se dankie vir seen en genade – elke oggend voor daar uit huis gestorm word om deel van die rot-resies te word?
Is dit nie die rede hoekom ons nie met die daaglikse aanslae van die lewe kan deel nie?
Die Jode is ons sover voor – met die seen van hulle huisgesinne!
Ons moet by hulle leer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.