Gedagte vir die dag: Seëvier oor seer!

Hart_teken_sand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie.” (2 Korintiërs 6:12a – AFR83)

Seer mense maak ander seer. Dit is so ʼn moeilike begrip om te verstaan, maar die oomblik wanneer ons dit ten volle verstaan, vind ons ook daarin die antwoord op hoe ons kan seëvier oor seer.  Wanneer ons kyk na hierdie brief van die apostel Paulus aan die gemeente Korinte, sien ons die seer waarmee hy in sy eie hart moes deel.

Ons sien al die verdrukking en ontbering wat Paulus en die ander dissipels moes verduur. Hulle is onskuldig in die tronk gegooi, het honger gely, hulle het alles ingespan en slapelose nagte deurgegaan. Tog ten spyte van al hierdie dinge het hulle vasgeanker in die liefde van Jesus gestaan, verdra en vriendelik gebly. Nooit vir een oomblik opgehou vertrou in die Here wat aan hulle die uitkoms sal gee nie.

Dis net wanneer ons daardie doelbewuste besluit neem om die vlees te kruisig en die Here te vertrou vir die krag van die Heilige Gees om ons innerlik te versterk, dat ons in sy liefde bly en sy liefde in ons. Daardeur kan ons die seer in ons oorwin.

Dis maklik om in tye van eer en prys jouself te verheug. Dit neem die kragtige werking van die Heilige Gees in en deur jou en ʼn onwrikbare vertroue in die Lewende God, om in daardie tye van oneer en belediging in liefde vasgeanker te bly. Dit is die wonder van die vrug van die Gees, dit bring lewe waar dood gesaai word. Dit gee aan jou ʼn hart gevul met vreugde al word jy bedroef deur die dade van ander. Al word jy behandel as nietig. Jy word nie gedefinieer deur ander se opinie oor jou nie. Jy is wie die Woord sê jy is. Jy is kosbaar en geliefd.

Daarom moenie bang wees om jou hart oop te sluit nie! Deur jou hart oop te maak vir ander, seëvier jy oor seer; nie net ander se seer nie, maar jou eie seer ook.

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
FM

Dis waarheid. Om in die krag van die Heilige Gees te oorwin is in alle opsigte bevrydend.