Gedagte vir die dag: Sekerheid

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Maar as iemand God liefhet, ken God hom. (1 Korintiërs 8:3)

Watter wonderlike woord, die versekering dat ek met die God van die heelal in ’n liefdesverhouding kan staan. Hy het my eerste liefgehad en my in staat gestel om Hom lief te hê. Hy ken my deur en deur. Hy weet nie net wie ek is en hoe my karakter lyk nie, Hy weet ook wat ek elke dag dink en hoe ek voel.

Of ek hartseer is of bly, senuweeagtig of vol selfvertroue oor wat vandag sal bring? Hy weet. Ek kan maar stil word en by Hom gaan skuil. Ek kan my vooruitsigte met Hom deel, sy raad vra, sy troos soek. Hy ken my. Sy Woord, die Bybel, is vol beloftes waardeur Hy ons intieme verbintenis verseker. Ek hoef my nie te bekommer nie. Selfs al wag daar rampe en ellende, Hy sal daar wees om my hand vas te hou.

‘Hiervan is ek oortuig; geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here’ (Rom 8:38–39). ‘Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad’ (Joh 13:1).

Here, ek is oorstelp van vreugde dat U my uitgekies het om my met u liefde te omvou en my vir ewig en altyd so vas te hou. Leer my nou om liefdevol te leef.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.