Gedagte vir die dag: Selfbejammering

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek was verbitterd in my hart en verskeurd in my binneste. Ek was dwaas en onnosel. Tog is ek nog altyd by U; U hou my regterhand vas. U lei my met u raad, daarna sal U my opneem en in heerlikheid ontvang. (Psalm 73:21-24)

As jy die perfekte voorbeeld van selfbejammering – én hoe om daaruit te kom – wil sien, gaan lees Psalm 73 deur Asaf. Die eerste 16 verse is eintlik maar net ’n fantastiese selfbejammeringspartytjie, met papierlinte, ballonne, die hele kaboedel. Dis ’n fees. Hy kla oor hoe onregverdig alles is en wonder waarom hy ooit die moeite gedoen het om God te volg, want dinge werk nie regtig vir hom uit nie. Die keerpunt kom in vers 17, waar hy sê: “totdat ek ingegaan het in die heiligdom van God …” Hy soek na God. Hy kry perspektief. Hy vergeet van homself. Hy is bly.

’n Slegte dag kan jou in ’n maalkolk van selfbejammering laat beland – tot by die punt waar jy jouself só desperaat jammer kry, dat dit eintlik méér vernietigend vir jou is as jou slegte dag. Jou selfbejammering is dalk geregverdig, maar dit tap nogtans jou kragte. Selfs al is dit die heel laaste ding wat jy lus is om te doen omdat jy so neerslagtig voel, soek God se aangesig. Soek ook ander mense op wat God se aangesig soek.

Versmoor jou selfbejammering jou begeerte om God se aangesig te soek?

O Here, red my uit hierdie maalkolk. Help my. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AL ·

Selfbejammering is n baie negatiew emosie wat satan gebruik om te keer dat ons vreugde ervaar. Mense het gewoonlik meer suksesse wanneer hul wegdraai van hulself en dankbaar is oor wat hul wel het. Christus is ons groot Leermeester pns kry soveel wysheid en lewensvaardighede by Hom.

Karien ·

Ons almal is lief om dit te doen, en wanneer dit sleg gaan, gaan dit vreeslik sleg. En O, hoe aaklig is ons lewens nie… Ek is self een wat vreeslik lief is vir myself jammer kry, veral wanneer ek verontreg voel. Dankie vir die gedagte, ons het soms nodig om dit te hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.