Gedagte vir die dag: Selfs deur die storms

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Foto: Suné van Heerden

Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou. (Jesaja 41:10)

Die storms van die lewe is ’n gegewe. Wees sterk as dit jou tref, God sal jou nie verlaat nie. Behou jou waardigheid, buig jou skouers en trot­seer die wind wat van voor af kom. Ook dit sal verbygaan. Bid tot God, doen jou werk so goed soos jy kan, kry hulp as dit nodig is en gaan pak die bul by die horings.

Angs kan jou ook in daardie donker gat van depressie aftrek en jou te bang maak om op te staan, aan te trek en uit te gaan. Die storm wat in jou gemoed woed, is dalk groter as die een wat daar buite op jou wag. Raak stil en dink aan Jesus. Onthou jy sy woorde aan die dissipels nadat Hy die storm op die meer van Galilea stilgemaak het? ‘Waarom is julle bang?’ het Hy gesê. ‘Het julle dan nie geloof nie?’ (Mark 4:40).

God toets nie jou geloof nie, Hy bevestig sy liefde juis in die tye wanneer jy voel asof jy deur golwe oorweldig word. Jy is ernstig siek en moet vir ’n groot operasie gaan, jou kind is in die moeilikheid, die bankbestuurder wil met jou praat oor jou oortrokke rekening. Jy staan voor ’n uitdaging waarvoor jy nie kans sien nie, ’n taak word jou opgelê wat jou met vrees en bewing vul.

Jy is nie alleen nie. Moses het nie kans gesien om die Israeliete uit Egipte te lei nie, maar God het Hom met oneindige geduld aan Moses geopenbaar. God het elke beswaar omgekeer en Moses is in die Bybel opgeteken as een van die grootste leiers in die geskiedenis van Israel.

Liewe Vader, ek is bang. Ek smeek U om die bekommernis en angs van my af weg te neem en my die kalmte en krag te skenk wat ek so nodig het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ElgeraineR ·

Dankie Here dat ek kan WEET, dat U my elke tree saam stap, dat ek nie hoef bang te wees vir die storms van die lewe nie. Amen

Barbara Willemse ·

Dankie Here dat U elke oomblik van elke dag by my is.

Miemie ·

Dankie Vader dat U my hand vashou in die huidige storm wat ek is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.