Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie, selfsugtige ambisie prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind.” (Matteus 16:24, 25)
Jesus het sy lyding, dood en opstanding aangekondig, en nou is dit tyd dat die dissipels moet weet wat dit beteken om die lydende Jesus te volg.
Om vir Jesus te volg, moet jy ʼn baie besliste kopskuif maak. Heel eerste moet jy verstaan dat die lewe nou nie meer net om jouself gaan nie. Christus word die middelpunt en fokuspunt van jou lewe. Daarom moet jy jouself verloën, jouself ter wille van Jesus prysgee, jouself as ʼn heilige offer aan Hom toewy. En, ja, dit sal beteken dat jy bereid moet wees om ʼn kruis op te neem.
Presies wat die kruis gaan wees, weet jy nie vooraf nie. Dit sal in ieder geval te doen hê met jou oorgawe aan Jesus, met jou bereidheid om Hom op sy kruisweg te volg. Vir ʼn ryk jongman was die kruis om van sy rykdom ontslae te raak. Maar hou tog net Jesus se woorde in Matteus 11:30 in gedagte: sy las is lig en sy juk is sag. Om ʼn kruis te dra ter wille van die Here vir wie jy liefhet, is ʼn voorreg.
Amen.
Al wat ek weet is dat God lewe en is Groot! sonder hom is ons n nul!!!