Gedagte vir die dag: Die sendeling se voorafbepaalde doel

voetpad2_namakwaland_abrits_stiltetyd.jpeg

Foto: Annelize Brits

En nou maak die Here ‘n aankondiging, Hy wat my in die moederskoot al sy dienaar gemaak het om Jakob na Hom toe terug te bring sodat Israel nie meer verstrooi sal wees nie. Die Here het my ‘n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen. (Jesaja 49:5)   

Die eerste ding wat gebeur nadat ons besef God het ons in Christus Jesus uitverkies, is die vernietiging van ons vooropgestelde idees, ons bekrompe denkpatroon en al ons ander verbondenhede. Ons word verander om slegs ’n dienskneg te wees volgens God se eie voorafbepaalde doel. Die ganse menslike geslag is geskape om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet. Sonde het die mens egter op ’n ander roete laat wegdraai, maar dit het God se plan nie in die geringste verander nie. En wanneer ons weergebore word, kom ons onder die besef van God se groot doel met die menslike geslag, naamlik dat Hy ons vir Homself geskape het. Hierdie besef dat ons deur God uitverkies is, is die vreugdevolste op aarde en ons moet leer om op hierdie kreatiewe doel van God te vertrou. Die eerste ding wat God sal doen, is om die belang van die ganse wêreld op ons hart te druk. Die liefde van God, ja selfs sy eie natuur, word in ons ’n werklikheid. En in Johannes 3:16 sien ons God Almagtig se karakter suiwer gefokus: “God het die wêreld so liefgehad … ”

Ons moet ons siel voortdurend oop en ontvanklik hou vir die feit van God se kreatiewe doel en dit nooit verwar of versluier met ons eie bedoeling nie. As ons dit wel doen, sal God genoodsaak wees om ons eie bedoeling uit die weg te ruim, ongeag hoe pynlik dit mag wees. ’n Sendeling is geroep met die doel om God se dienskneg te wees; iemand in wie God verheerlik word. Wanneer ons eers besef dat dit deur die verlossing van Jesus Christus is dat ons volkome geskik gemaak word vir God se doel, sal ons verstaan waarom Jesus so onversetlik was in sy eise. Hy vereis absolute geregtigheidvan sy diensknegte, want Hy het God se eie natuur in hulle geplant.

Waak daarteen om nie God se doel met jou lewe te vergeet nie.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.