Sendingwerk op ons voorstoep

Egipte (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Suid-Afrika is ‘n land met ʼn verskeidenheid nasionaliteite en net soos ons landsvlag tereg bewys, is ons ‘n reënboognasie, met mense uit verskillende lande. Hierdie kulturele integrering sien mens wêreldwyd aan die gebeur, en Suid-Afrika word ‘n plek van vrede en toevlug vir baie mense reg oor die wêreld wat so dringend daarna op soek is.

In die Bybelse tyd was hierdie ook reeds ʼn verskynsel en Jesus het ʼn duidelike voorbeeld vir Sy volgelinge gestel en die grootste gebod deels opgesom deur te sê dat ons as Sy volgelinge ons naaste moet liefhê en hulle goedgesind moet wees. Want so bereik jy mense met die liefde van Jesus wat naby jou is, en vir die wat ver is, in ander lande, het Hy vir ons die Groot Opdrag gegee… “Gaan na al die nasies en maak dissipels…” Maar nou is dit asof Jesus die Groot Opdrag na ons voorstoep gebring het.

Vandag se sendingwerk vereis nie net dat ons na verskillende lande moet reis om die boodskap van Jesus te verkondig nie, want ons medebroers en -susters woon langs ons! En as ons bure, vra God van ons om ons naaste lief te hê… maar hoe doen ons dit?

Bangladesj (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Jesus was bekend daarvoor dat hy saam met die mees onkonvensionele mense gesit en geëet het. Hy het altyd medelye betuig en was bereid om vir die siekes te bid, en hulle het gesond geword. Hy het menseverhoudinge oor kulturele grense gebou en Sy volgelinge geleer van die Koninkryk van die hemel, en wat hulle moes doen om dit te beërwe.

Wanneer was die laaste keer dat ons met dapperheid besluit het om vir ons bure te bid of met hulle te praat? Wanneer was die laaste keer dat ons oor Jesus gepraat het met iemand wat nie in dieselfde kerkkringe as ons beweeg nie? Wanneer laas was ons opgewonde om ernstige gesprekke te hê oor geloof, met iemand wat nie dieselfde geloof as ons deel nie? Wys ons liefde aan ons bure? Of ignoreer ons hul bestaan ​​omdat hulle “anders” is as ons?

Dít is waar ons vervolgde broers en susters in Christus vir ons tot voorbeeld is…

Vervolgde Christene reg oor die wêreld vind maniere om met vrymoedigheid en kreatiwiteit mense van Jesus te vertel. Hulle begin gewoonlik hierdie gesprekke oor die Waarheid met hul familielede en bure wat anders glo as hulle, en dit met die wete dat hulle aanvalle, skande, diskriminasie en die dood waag. Die boodskap van die Kruis word met passie versprei deur gevangeniskampe, vlugtelingskampe, tronke en woonbuurte in van die gevaarlikste lande om ‘n Christen in te wees maar tog vir ons, in ‘n land waar ons vrylik ons geloof kan uitleef, blyk dit ‘n baie moeilike taak te wees.

Die vraag is dus vir jou en my, wie is ons naaste? Is dit dalk die Indiese of Pakistanse man wat selfone regmaak of jou hare sny? Of is dit die Moslemvrou wat jy altyd in die winkel raakloop, wat drie jaar gelede langs julle saam met haar familie ingetrek het…?

Soedan (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Daar is altyd geleentheid om die liefde van Christus te versprei, en dit is ook so dat ons Moslembure tans die vasmaand van Ramadan onderneem – ʼn tradisie waarop ons so maklik net neerkyk. Min besef ons, dat gedurende Ramadan, baie Moslems oor die wêreld heen soekend is om werklik tot die ware God te nader en die Waarheid te ontdek deur diep in hul geestelike lewens te delf. Daar is so baie stories van mense wat drome en visioene oor Jesus gehad het, en daarom is dit nodig dat ons saam met hulle moet sit en praat, vir hulle bid en hulle moet vertel oor Jesus.

Geopende Deure het ‘n gebedskalender saamgestel wat daaraan toegewy is om vir vervolgde Christene en diegene wat die een ware God gedurende Ramadan wil leer ken te bid. Besoek ons webwerf www.OpenDoors.org.za om jou gebedskalender te ontvang en saam met ons vir ons broers en susters te bid. Bid dat ons vervolgde familie die lig sal wees in ʼn donker wêreld, en dat mense sal Jesus ontmoet. Bid ook dat ons met veranderde harte sal kyk na Moslemfamilies en ons bure wat as “anders” beskou word. Want as Jesus dieselfde lewe as ons geleef het, sou Hy waarskynlik dieselfde gedoen het.

So gaan na al die nasies rondom jou… en wees lief vir jou naaste!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.