Gedagte vir die dag: Siek

bid_hande_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking. (Jakobus 5:16) 

Ek was 14 weke swanger toe ek met ’n onomkeerbare miskraam gediagnoseer is. Op daardie stadium het ons diep in Afrika gewoon. Danksy ’n groot vlugtelingkamp daar naby het ons met die enigste hospitaal in ’n radius van 400 km gespog. Terwyl die Nederlandse dokters wat daar gewerk het eenparig in hul diagnose was, het ek woordeloos voortgegaan om God se aangesig te soek. Hy het my na Psalm 139:15-16 gelei: “Geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie … Al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is” (Bybel in Afrikaans 1983/1992).

Terwyl ek dit gelees het, was my hart vreemd ontroer, en ek het ’n baie werklike ervaring gehad dat ons nie ons baba gaan verloor nie. ’n Groot vrede het oor my gekom, en alhoewel ek vir weke in die bed moes bly, is ons dogter op volle termyn gebore. Vandag is sy ’n gesonde jong vrou.

Terwyl ons begeertes wat in gebed uitgespreek word nie altyd fisiese genesing tot gevolg het nie, moet ons sy wil soek en Hom vertrou, want Hy is Jahweh Rapha.

God wat genees, ek staan voor U, want ek / ’n vriendin / my kind is siek van hart / siek van gees / siek van liggaam. Ek is angstig dat U ingryp, want die pyn en gebrokenheid wil my by tye oorweldig. Hoe  gerusstellend om te weet dat u genade genoeg is. Daaraan hou ek vas en daarin vind ek my troos. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.