Gedagte vir die dag: Sien God raak met Kersfees

kersfees1.pngLees: Lukas 2:1-7

Josef moes vanaf die dorp Nasaret in Galilea na Judea gaan, na Betlehem, Dawid se tuisdorp. Hy het sy verloofde, Maria, wat swanger was, saamgeneem om te gaan registreer. Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word. Sy het geboorte gegee aan haar eerste Kind, ’n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en Hom in ’n krip neergelê omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. (Lukas 2:4-7, NLV)

Die plek waar haar eersteling gebore is, was waarskynlik vir Maria ’n onaangename verrassing. Ons verwag God nooit in krotbuurtes nie, maar Jesus het net ’n stal as blyplek gehad. Arthur Rounder het ’n gebed geskryf waarin hy bid dat God hom sal help om Hom in onverwagte plekke raak te sien. Rounder sluit sy gebed soos volg af: “Here, as ek U nie raaksien op alledaagse plekke en in dood gewone mense om my nie, is dit omdat ek vergeet hoe ánders as wat mense sou verwag u Koningskap vertoon is. Wys vandag die lig van die ster vir my bokant die plakkershuise om my stad, laat my die engellied hoor in versoenende woorde tussen gewone mense” (Die groot gebedeboek).

Probeer om Jesus vanjaar met Kersfees oral raak te sien: Nie net tussen jou hartsmense en vriende nie, maar ook tussen die boemelaars by wie jy liefs nie betrokke wil raak nie. Vind uit of jou gemeente ’n Kersuitreikaksie loods waarby jy betrokke kan raak en leef vanjaar Jesus se boodskap uit. Miskien vra God van jou om gewillig te wees om dinge wat vir jou kosbaar is, prys te gee sodat jy ander mense kan help.

Here Jesus, vanjaar wil ek U oral raaksien, en nie net in deftige huise met versierde Kersbome nie. Help my om te onthou hoe arm U was toe U op aarde gebore is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.