Gedagte vir die dag: Sien God

arend_vlieg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra … (Deuteronomium 32:10b-11)

Dit is sekerlik een van die mooiste gedeeltes in die Bybel hierdie, die beeld van ’n arend wat sy kleintjies oppas illustreer God se sorg, sy omgee vir sy kinders. Soos ’n arend sy kuikens versorg en hulle op sy vlerke vang en dra wanneer hy hulle leer vlieg, só sorg God vir ons. God het sy kinders oneindig lief en waak oor ons, nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat Hy ons Skeppergod is.

God is nie daar doer ver in die hemel nie, nee Hy is betrokke by sy skepping en skepsels, Hy maak bemoeienis met ons. Ons is sy kinders en Hy die volmaakte Ouer wat omgee en sorg. Die Here se liefde is allesomvattend en aldeurdringend. Dit duur ons hele lewe lank en is daar selfs in die donkerste oomblikke van ons bestaan.

Dalk voel dit vandag of God nie by jou is, of vir jou sorg nie en asof God ver is? Ek wil jou verseker: soos Hy in die verlede daar vir jou was en jou gedra het, só is Hy nou by jou en só sal Hy in die toekoms by jou wees. Vra God dat Hy jou geestesoë oopmaak sodat jy Hom in jou lewe kan sien werk. Soms raak ’n mens gewoond aan dinge wat eers wonderwerke was maar alledaags geword het. Jy het dalk jare terug vir werk gebid en toe gee God vir jou ’n wonderlike geleentheid, maar nou na ’n paar jaar is die nuwigheid verby en het dit roetine geword. Dieselfde gebeur soms met ’n mens se huwelik of verhouding met jou kinders en ander mense. Moenie God se hand in jou lewe miskyk nie, wees versigtig vir onvergenoegdheid, Hy is by jou al voel dit nie altyd so nie.

Ons mag nooit ons verwondering verloor oor dit wat God in ons lewe en in die wêreld doen nie. Job sê elke nuwe more is ’n wonderwerk; as God die son nie beveel om op te kom gebeur dit nie. Sien God raak.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarie ·

Dankie Onse Vader vir U groot genade onbeskryflik groot. Dankie dat U nog bemoeienis maak met ons. Alle lof alle eer kom net U alleen toe. Amen

Dries ·

Ons moet GOD se ontsettende liefde vir ons ook in die oënskynlik klein dingetjies raaksien.

Stephnie Vorster ·

Tina, toe die Here v Israel gesê het om op te trek na die bergland en die Midianiete te oorwin, sê hulle ‘Nee, God haat ons want die vyand s ons uitroei.’ God haat jou NIE, glo en vertrou, Hy sal ‘n weg berei.’

Soekie ·

Tina, lees asseblief oom Angus se gedeelte van 27 Julie 2019 en vertrou op die Here. Hy is die Almagtige en weet wat Hy doen. Ek self gaan deur ‘n woeste storm, maar ek weet aan die ander kant van die storm wag die mooiste paradys.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.