Sien hoe jý vervolgde Christene in 2019 gehelp het

Foto verskaf deur Geopende Deure

Talle Maroela-lesers het saam met ander Christene in Suid-Afrika die afgelope jaar opnuut hul gewig agter vervolgde gelowiges wêreldwyd gegooi en ʼn merkbare verskil in dié mense se lewens gemaak. Die vervolgde kerk is in 2019 in van die moeilikste situasies op verskillende maniere ondersteun.

Die organisasie Geopende Deure, wat hom daarop toespits om vervolgde Christene in meer as 60 lande te ondersteun, se 2020 Wêreldwaarnemingslys het aan die lig gebring dat altesaam 260 miljoen Christene en een uit elke agt Christene wêreldwyd ernstige vervolging vir hulle geloof ervaar.

Statistieke in Geopende Deure se nuutste impakverslag wys die reuse-impak wat die publiek se ondersteuning maak om vervolgde Christene en hul families te bemagtig. Een van die belangrikste hoekstene wat gelowiges help om hul geloof te versterk, is gebed.

Gebed

Foto verskaf deur Geopende Deure

Gebed is een van die eerste dinge waarvoor vervolgde Christene vra. Die Bybel leer ons om vir mekaar te bid, soos in Efesiërs 6:18 beklemtoon word: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.”

Honderde Maroela-lesers het die afgelope jaar ingetree as gebedsvriende vir vervolgde Christene.

Volharding in gebed laat wonderwerke gebeur en wys dat ons God vertrou vir Sy ingryping in enige situasie. Broer Andrew, stigter van Geopende Deure, sê: “Dit is goed om vir ons werk, kinders en finansies te bid. God nooi ons om ons gemeenskap, nasie en die wêreld te beïnvloed – om letterlik geskiedenis te maak terwyl ons op ons knieë is.”

Intrede is dié kragtigste wapen wat die kerk in Suider-Afrika het om vervolgde Christene te ondersteun en aan hulle te wys dat hulle nooit alleen op hul uitdagende pad is nie.

Vervolgde gelowiges is innig dankbaar vir die gebede van Christene om die wêreld. “Mag God diegene wat ons in gebed ondersteun, seën. Dit bemoedig ons ook wanneer julle ons persoonlik kom besoek en in ons lyding deel,” sê Nicholas, ’n gelowige van Noord-Kameroen.

Geskenke van Hoop

Foto verskaf deur Geopende Deure

Nog ʼn manier waarop vervolgde Christene in 2019 gehelp is, is deur fisiese bydraes. Duisende Suid-Afrikaners wat deur die Heilige Gees daartoe gelei is, het finansieel bygedra en as’t ware geskenke van hoop aan vervolgde Christene gegee.

Van hierdie geskenke het Geopende Deure in staat gestel om meer as 2 miljoen Bybels en ander Christelike literatuur reg oor die wêreld te versprei.

Broer Han, ’n Christen in Asië, spreek sy dank uit namens almal wat op dié manier met Bybels geseën is. “Baie dankie. Ek droom al baie lank daarvan om ’n Bybel te hê,” sê hy.

Verder is vervolgde Christene is ook ondersteun met ander projekte soos opleiding in dissipelskap en pastorale leierskap, mentorskap, traumaberading, sosio-ekonomiese ontwikkeling, persoonlike besoeke, lenings, geletterdheidsopleiding en mikro-ondernemings.

Akeem, ’n jong bekeerling onder ’n streng Islamitiese regering, kon danksy die ondersteuning van Christene in ander lande leierskapopleiding in ʼn naburige land ondergaan. “Ek lees die Bybel dikwels en delf al dieper daarin,” sê Akeem. “Ek wil my vaardighede tot Sy eer ontwikkel.”

Volgens Geopende Deure se impakverslag is altesaam 372 394 Christene in die vorige finansiële jaar met sosio-ekonomiese hulp bygestaan. Altesaam 2 023 093 Christelike hulpbronne is versprei, waaronder 224 738 Bybels en 63 401 Kinderbybels. Altesaam 51 369 Christene is met voorspraak-inisiatiewe bygestaan, terwyl 570 702 vervolgde Christene met Bybel- en dissipelskap-opleiding bygestaan is.

Vervolging gaan nie weggaan nie. Vervolging vermeerder soos wat die Evangelie versprei en meer mense tot geloof kom. Staan in 2020 saam met Geopende Deure om die vervolgde kerk te ondersteun deur gebede en geskenke, en op hoogte te bly van nuus en getuienisse uit die vervolgde kerk. Bid dat ons vervolgde familie die lig sal wees in ’n donker wêreld. Bid vir hul beskerming en dat hulle hul wapenrusting as Jesus se soldate sal aantrek.

Besoek Geopende Deure-webtuiste by https://www.opendoors.org.za/afr/raak-betrokke/ vir meer inligting oor hoe jy kan betrokke raak deur te bid, te reis, te skryf, te gee en jou tyd op te offer vir jou vervolgde familie!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae