Gedagte vir die dag: Sien uit na die heerlikheid!

geluk_uitgestrekte-arms_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Romeine 8:18-25

Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie … Noudat ons verlos is, sien ons uit na ons toekomstige heerlikheid. (Romeine 8:18, 24, NLV)

Gelowiges kry dit beter reg om hulle aardse swaarkry te verwerk as wat ongelowiges dit kan doen – gelowiges weet immers dat daar in die hemel vir hulle ’n tyd van ewige heerlikheid wag. Almal wat verlos is, mag nou reeds daarna uitsien. Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit vir my pragtig: God gaan sy kinders eendag met daardie heerlikheid verras! Hoe swaarder dit met jou hier op aarde gaan, hoe meer reikhalsend mag jy uitsien na die hemel wat vir jou wag.

Die hele wêreld is onvolmaak. Net soos ons, smag ook die skepping daarna om nuut gemaak te word. Die ironie van die saak is dat ons swaarkry op aarde deels ons eie fout is. Dit is deel van die gevolge van die eerste twee mense se ongehoorsaamheid aan God. Ons eie foute vorm eweneens deel daarvan. As ’n mens in ’n oomblik van woede iemand anders se lewe geneem het, kan jy nie die gevolge, jou straf, vryspring nie.

Tog maak Jesus se versoeningsoffer aan die kruis dit vir jou moontlik om die ewige straf op jou sonde vry te spring. Deur sy toedoen kan jy nou, ten spyte van jou sondigheid, uitsien na die hemel waar jy eendag vir altyd saam met God sal wees. Glo in Christus en maak op dié manier nou reeds seker dat jy ’n plek in sy nuwe wêreld het – ’n plek waar jy elke dag God se heerlikheid eerstehands sal ondervind!

Here Jesus, dankie, dankie dat U vir my my kaartjie na die hemel met u bloed aan die kruis verdien het. Ek sien reikhalsend daarna uit om eendag met u heerlikheid verras te word.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Elke dag verder in mens se lewe is ‘n dag nader aan Jesus se wederkoms, ons as gelowiges het rede om alhoemeer vroliker en opgeruimd te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.