Gedagte vir die dag:  Sigbaar

Foto: pixabay.com

Lees Johannes 1:43-51

“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “… het Ek jou al gesien”. (Johannes 1:48)

Dit bly ’n verbysterende ontdekking dat ons so sigbaar vir die Here is. Hoe suksesvol jy ook al daarin slaag om vir vyande (en vriende!) weg te kruip; vir die Here is jy so duidelik soos, nou ja, daglig.

Reeds die digter van Psalm 139 het sy verstomming hieroor uit- gespreek: “Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek … maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie …” (v. 11-12).

Die ironie hiervan is dat ons Hom so graag wil sigbaar maak. Ons sê, soos Filippus vir Natanael: “Kom kyk” (v. 46). In ons oor- moedigheid reken ons dat ons Hom in elke donker hoekie raaksien, om elke hoek en draai Hom kan uithaal en wys. Vir mense kan sê: Ek weet hoe Hy lyk, ek ken Hom en sy wil.

Ons doen ons voor as gidse van God. Ons beduie met vrymoedige vingers na Hom, die groot Besienswaardigheid. Dan roep ons ekstaties uit: Dáár is Hy! Só is Hy!

Intussen weet Hy alles van ons af. Sien Hy dwarsdeur ons. Kyk Hy tot in ons hovaardige hart en sien ons egoïsme raak, ons matelose selfliefde.

Maar, goddank, Hy kyk selfs dieper. Hy sien ook ons verlatenheid en verlange raak. Ons onsekerhede, al ons twyfel. Dan kom haal Hy ons uit ons skuilplek uit. Verwyder Hy die bravademasker van ons gesig. Sê Hy, soos vir Natanael: Ek gaan jou nog groot dinge wys (vgl. v. 50-51).

Sy manier van kyk is enig: Daar is nie nóg so ’n ontfermende blik nie. En dít is mos uiteindelik wat so sigbaar vir sy wegkruiper- kinders is: sy oë, en die sagtheid daarvan.

Kyk asseblief goed na my, Here! Ek is swak en blind.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

S.M. ·

Waarlik, daar is niemand soos onse heilige en almagtige hemelse Vader en onse Here Jesus Christus nie. Aan Hom alleen kom alle eer en lof en aanbidding toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.