Gedagte vir die dag:  Sing, ja!

viool_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 89:1-18

Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte. (Psalm 89:2)

Dit is so tipies van die lofpsalms: die oortreffende trap. Die kwistige gebruik van woorde soos “altyd” en “nooit”; die uitasem beskrywings van God se krag en mag; die verklaring van sy heerskappy oor al wat leef en beef, oor die “onstuimige see” (v. 10), oor die hemel en die aarde “en alles daarin” (v. 12).

Dit is wonderlik dat daar Bybelskrywers is wat so onbeskroomd opgewonde oor God se goedheid is. In soveel van die verhale wat ons in die Bybel lees, moet ons ons oë en ore behoorlik inspan om deur al die seer en swaar en twyfel heen iets van hierdie goedheid agter te kom. Dikwels voel dit asof jy, gelowige Bybelleser, eers ’n raaisel moet oplos of ’n legkaart moet voltooi voordat jy ’n prentjie van die liefdevolle Here kan raaksien.

In die kerk verloop dit vermoedelik nie juis vlotter nie. Ook daar volg verduideliking op verduideliking, word die Here se motiewe met groot moeite uitgepluis en met ’n geween en ’n gekners van tande oorgedra en al fronsend in ontvangs geneem.

Dan kom Bybellesers op hierdie psalm af. Hierdie vars, lewe- gewende bries. Onopgesmuk, uitbundig, in dié eerste agtien verse sonder selfs ’n enkele “ja, maar …” Geen wonder nie hy sê dit is eintlik beter om hieroor te sing! Boonop waar die geslagte wat kom hom kan hoor en sien.

Is dit nie dalk die beste, blywendste geskenk aan ons jonges nie? Om hulle op dié manier te vertel van God – met woorde soos “geregtigheid en reg, liefde en trou” (v. 15). Sodat hulle, wanneer die swaar tye opdaag, reeds weet waar hul hulp vandaan kom.

Leer my sing, Here! Laat juig my oor u goedheid, sodat my kinders dit by my kan leer.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae