Ek wil altyd sing van die goedheid van die Here. Ek wil, geslag na geslag, sy getrouheid bekendmaak. (Psalm 89:2)
Sonder musiek is die lewe eentonig. Die slim mense sê musiek aktiveer ander areas in ons brein as spraak. Dit is dalk hoekom die psalmskrywers en die vroeë kerk ook gekies het om hulle teologie te toonset. ’n Paar keer besing Paulus in sy briewe Jesus se persoon en werk. In Filippense 2 vertel hy melodieus vir ons hoedat Christus gekies het om sy eervolle bestaan in die hemel in te ruil vir dié van ’n slaaf hier tussen ons op aarde. En hoedat Hy ook gekies het om Homself tot aan die kruis van Golgota te verneder. Al singende deel Paulus met ons hoedat God sy Kind hierna verhoog het tot die mees eervolle plek in die heelal. Om hierdie lied agterna te sing en te bely, is om goeie lewensmusiek te sing. Dit is om nou reeds deel te wees van God se ewige hemelse koor.
Jy as gelowige dans op die maat van ander musiek. Jy volg die Here se ritmes – daardie soort waaroor Psalm 89 en ander psalms sing. Jy luister heel eerste en altyd na sy stem. Nee, jou geloof is nie ’n ontsnappingsroete nie. Dit laat nie die seer en swaar in en rondom jou in ’n oogwink verdwyn nie. Maar jy weet onder alle omstandighede dat jy ’n ander Heer volg met ander beginsels as al daardie rugstekers, misdadigers en korruptes. Ook weet jy Christus het nie doekies omgedraai toe Hy gesê het dit gaan nie aldag maklik wees om Hom te volg nie. Tog is daar ’n innerlike vrede in jou, wat nie deur die goorste omstandighede weggevat kan word nie. Jy hoor immers elke dag ander musiek: God s’n. Hy is jou hoop, jou anker.